AfriForum “onwelkom” om Reitz-bib se perseel te onderhou; vra Vrystaatse regering vir samewerking
AfriForum het ’n helpende hand na die Vrystaatse regering uitgereik deur hulpbronne en mannekrag by te dra om die biblioteek op Reitz se perseel op te knap en in stand te hou. Die organisasie glo dat so ’n inisiatief nie net die netheid en funksionaliteit van die dorp sal ophef nie, maar ook ’n bewys sal wees van die provinsiale regering se gewilligheid om saam met die publiek te werk om die omgewing te verbeter.
AfriForum het ’n versoek vir ’n memorandum van verstandhouding op 4 April in ’n brief aan die Vrystaatse regering gemaak, nadat sy Reitz-tak op 25 Maart verhoed is om die biblioteek se perseel skoon te maak. Lede van die tak was reeds besig om daar skoon te maak toe ’n werknemer van die biblioteek hulle versoek om die perseel te verlaat.
Die AfriForum-tak het sonder enige probleme op 15 Maart vir die eerste keer die biblioteek se bebosde perseel skoongemaak omdat dit nie voldoende onderhou word nie. Die onnetheid beïnvloed nie net die estetiese waarde van die gemeenskap nie, maar hou ook ’n veiligheidsrisiko in. Lede van die tak het met hul eie toerusting en hulpbronne die terrein skoongemaak, bome en struike gesnoei en rommel verwyder. Hierdie inisiatief strook met AfriForum se strewe om gemeenskappe deur selfdoen-projekte en verantwoordelike burgerskap te verbeter. Die tak het self onderneem om die perseel tweeweekliks skoon te maak maar was egter ontnugter toe hulle die tweede keer by die biblioteek opdaag en moes aanhoor dat hulle nie daar mag skoonmaak nie.
Die brief lui verder dat daar minstens drie groot waterlekke op die biblioteek-perseel is en dat die septiese tenk lek, wat beide gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou. Die personeel het geen toegang tot water in hul ablusiegeriewe nie, wat hul werksomstandighede uiters moeilik maak. Die buitekant van die gebou is toegegroei met plantegroei en die parkeerterrein is deurspek met slaggate en onkruid, wat toegang vir besoekers onveilig maak.
Na verneem word, het die provinsiale regering nie die fondse om die perseel te onderhou nie, daarom stel AfriForum ’n samewerkingsooreenkoms voor vir die behoud van die biblioteek en die dorp.