|

Tshwane-swembaddens leeg weens waterbeperkings, maar waterlekkasies bly

Openbare swembaddens in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is leeg en huishoudings wat nie gehoor gee aan Rand Water se vlak 1-waterbeperkings nie word beboet, maar waterlekkasies en gebarste pype reg oor die metro mors vir dae lank water voordat dit herstel word. Volgens AfriForum moet inwoners en die sportgemeenskap van die Tshwane-metro nie gestraf word vir die metro se tekortkominge nie. Die organisasie het opnuut ’n beroep op die metro gedoen om AfriForum se buurtspanne toe te laat om te help met die herstel van waterlekkasies.

AfriForum meen dat dit onbillik is dat die Tshwane-metro die skuld vir die waterkrisis op huishoudings pak terwyl die eintlike probleem by gebrekkige infrastruktuur en swak waterbestuur lê. Duisende liters skoon water gaan daagliks verlore weens swak infrastruktuur en owerhede se versuim om vroegtydig op te tree om die lekkasies te herstel. Volgens die organisasie gaan meer as 30% van die water wat die Tshwane-metro vanaf Rand Water kry, verlore weens tekortkominge in infrastruktuur.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Noord, is dit onaanvaarbaar dat huishoudings en sportgemeenskappe onder die Tshwane-metro se swak bestuur moet ly. “Die Tshwane-metro moet besef dat die probleem nie die eindverbruiker is wanneer dit kom by water wat verlore gaan nie. Gemeenskappe doen wat hulle kan om water te bespaar by hul huise en ondernemings, maar dit help nie as daar byna om elke hoek en draai ’n waterlekkasie of gebarste pyp is waar water in strome uitloop nie.”

“Dit is sleg dat die Tshwane-metro staatmaak op beperkende maatreëls eerder as om net tydig op te tree wanneer waterlekkasies aangemeld word en deurlopend instandhoudingswerk aan waterinfrastruktuur te doen. Waar politieke wil en doeltreffende bestuur ontbreek is alternatiewe nodig, ons het juis daarom ons hulp aangebied. Ons buurtspanne is gereed en toegerus met die nodige vaardighede en toerusting om die metro te help om waterlekkasies vinnig te herstel. Ons almal moet ons deel doen om die dreigende waterkrisis af te weer,” sluit Hemmens af.

Sluit nou by AfriForum se Pretoria-tak aan om ’n daadwerklik verskil in jou omgewing te help maak. Sluit hier aan.

Soortgelyke plasings