|

Mosel-buurtwag lê beslag op honderde meters se omhulsel wat koperkabel bedek

AfriForum se Mosel-buurtwag in Kariega (voorheen Uitenhage) het tussen 28 en 31 Maart ’n veiligheidsoperasie van stapel gestuur waartydens hulle die beboste gebied langs die stormwatersloot tussen Daniël Pienaarweg en die ou spoorwegstasie besoek het. Die gebied om die stormwatersloot – die groenstrook tussen Bubbs- en Van der Stel-laan – het nie net ’n slaapplek vir haweloses geraak nie maar ook ’n wegkruipplek vir misdadigers.

Tydens die operasie is verskeie strukture gevind waar mense onwettig en sonder toestemming hul intrek geneem het. Die strukture is verwyder en die bewoners daarvan is beveel om die gebied te verlaat.

Bewyse van kriminele aktiwiteite is ook in die gebied gevind, veral van kabeldiefstal. Honderde meters koperomhulsel (staaldraad en plastiek) is gevind, asook brandplekke waar die kabels “skoongebrand” word voordat dit verkoop word. Volgens Ivan Smith van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit, wat ook aan die operasie deelgeneem het, is die geskatte waarde van die koper wat aanvanklik in dié omhulsel was tussen R300 000 en R400 000.

Luidens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap, is dit skokkend dat kriminele aktiwiteite daagliks openlik in die middel van woonbuurte plaasvind. Van die plekke waar koperkabels gebrand en verwerk word, is minder as 50 meter weg van sekere wonings in die gebiede. Van der Vyver glo ook dat baie inwoners bewus is van die kriminele aktiwiteite wat onder hul neuse plaasvind maar verkies om anderkant toe te kyk. “Dit is tyd dat ons ’n ons-sal-self-houding inneem en deel word van die oplossing in plaas daarvan om toe te kyk hoe ander die werk doen. Dankie aan AfriForum se Mosel-buurtwag vir jul betrokkenheid by die operasie,” sê Van der Vyver.

Die AfriForum-tak in Uitenhage moedig die gemeenskap aan om probleme in hul omgewing by die Nelson Mandelabaai-metro en hul plaaslike polisiekantoor aan te meld. Indien die gemeenskap geen reaksie kry nie, kan die AfriForum-tak daarvan in kennis gestel word.

Kom neem deel aan die organisasie se toekomstige projekte deur betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: Besoek www.wordlid.co.za of kontak Minette van der Vyver, bemarkingsbeampte vir AfriForum se Uitenhage-tak, by 083 685 5815.

Soortgelyke plasings