‘Semi-Soet – die musiekblyspel’ verleng speelvak ná groot aanvraag

Semi-Soet – die musiekblyspel se vertonings het nog nie eens afgeskop nie en die aanvraag is reeds só oorweldigend dat besluit is om die speelvak met ’n volle maand te verleng. Dit beteken dat aanhangers van musiekteater nou vanaf 7 Mei tot 29 Junie kans het om die verwerking van die lokettreffer Semi-Soet, hierdie keer met Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander in die hoofrolle, te sien wanneer dit op die planke kom by die AfriForum Teater in Pretoria. 

Volgens Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater, trek die geliefde verhaal van Semi-Soet, wat 13 jaar gelede in rolprentteaters begin draai het,’n nuwe én musikale baadjie aan vir dié nuwe musiekproduksie. “Die rolprent se reputasie én die suksesresep van vorige musiekteaterproduksies wat AfriForum Teater voorheen in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied het, het die publiek reeds oortuig om in groot getalle kaartjies aan te skaf. Ons is opgewonde oor die reaksie. Dit is duidelik dat teatergangers ongelooflik opgewonde is oor dié musiekblyspel. Dit is ’n groot voorreg om hierdie geliefde storie na die teater te bring en die aanvraag met ’n verlengde speelvak te kan bevredig,” verduidelik Smith.

Teatergangers kan intussen gereed maak vir ’n puik produksie met ’n sterbelaaide rolverdeling. Alexander sal weer, soos in die rolprent, die vroulike hoofrol vertolk as Jaci van Jaarsveld, terwyl die Adonis van Afrikaanse musiek, Bobby van Jaarsveld, te siene sal wees as die skynbaar hartelose sakeman JP Basson. Verskeie ander groot name in die Afrikaanse rolprent- en teaterbedryf, insluitende Nadia Beukes, Johan Scholtz, Zöricke Snyman, Izak Davel, Révan Luus en Marcelle Peach, vorm ook deel van dié musiekblyspel se rolverdeling.

“Ons is baie dankbaar vir die publiek se positiewe ontvangs en ook vir AfriForum se volgehoue ondersteuning van die Afrikaner se kuns- en kultuurerfenis,” sê Jacomien de Wet, uit wie se pen die musiek vir Semi-Soet – die musiekblyspel in samewerking met Johan Vorster vloei. Hierdie wenkombinasie – saam met Jannes Erasmus wat die regie behartig – beloof om ’n unieke en onvergeetlike teaterervaring te bied.

Moenie die kans misloop om hierdie musiekblyspel op die planke te sien nie! Kaartjies is nou beskikbaar op www.semisoetmusiekblyspel.co.za.

Soortgelyke plasings