AfriForum oorhandig sertifikaat van swak dienslewering aan Ekurhuleni-metro
AfriForum het vandeesweek namens sy sowat 14 000 lede in Ekurhuleni ’n sertifikaat van swak dienslewering aan die munisipale bestuurder van dié metro oorhandig vir sy uitnemendheid in dié verband. Hierdie protesaksie kritiseer nie bloot die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se gebrekkige dienslewering nie, maar beklemtoon eerder die werklikheid waarmee inwoners daagliks in die metro gekonfronteer word. Die burgerregteorganisasie het boonop die metro uitgenooi om met hom hande te vat om saam diensleweringskwessies die hoof te bied.
“Die inwoners van Ekurhuleni soek nie ’n metro wat skitter in sy afwesigheid nie, hulle eis werklike dienslewering. Die oorhandiging van hierdie sertifikaat stuur ’n duidelike boodskap dat inwoners keelvol is vir swak dienslewering. Inwoners eis dat die metro toerekeningsvatbaar is vir die huidige stand van sake. Ons wag nie op ’n reaksie nie, ons verwag resultate,” het AfriForum tydens die oorhandiging benadruk.
Diensleweringskwessies, wat strek van waterlekkasies tot kragonderbrekings, word daagliks by die metro aangemeld, maar weinig word gedoen om dit volhoubaar te pak. Gemeenskappe word dus al hoe meer gedwing om verantwoordelikheid te neem vir hul omgewings, infrastruktuur, veiligheid en vullisverwydering – basiese dienste wat die munisipaliteit veronderstel is om te lewer.
AfriForum erken dat daar groot uitdagings binne die Ekurhuleni-metro bestaan, maar glo dat oplossings gevind kan word deur samewerking. AfriForum het daarom die metro uitgenooi om met die burgerregteorganisasie in gesprek te tree en ’n samewerkingsooreenkoms (MOU) te onderteken sodat gemeenskappe prakties kan help om diensleweringskwessies die hoof te bied.
“AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe te bemagtig en verantwoordbaarheid van plaaslike regering te eis,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die oplossing en by die AfriForum-tak in die Oos-Rand betrokke te raak.