Lang gras word nie op Chrissiesmeer geduld danksy AfriForum
AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het gedurende Februarie dit op hulself geneem om bykans elke sypaadjie op die dorp se gras te sny. Die tak het sy maandelikse skoonmaakprojek voortgesit deur vrywilligers in te span om sypaadjies en erwe met lang gras skoon te sny. Die tak het ook daarop gefokus om die plaaslike begraafplaas en die monument by die slagveld se gras te sny. Daar is gedurende die maand meer as 16 000 m² se gras in die gebied gesny.


Die tak het ook weekliks die vullis verwyder uit die 18 vullisdromme wat AfriForum verlede jaar op strategiese plekke op die dorp geplaas het. Daar is in Februarie altesaam 35 sakke vullis verwyder. Hierdie rommel sou, indien die projek nie van stapel gestuur was nie, waarskynlik op die dorp rondgelê het. Hierdie skynbaar eenvoudige projek, wat ten doel het om die dorp se netheid te verbeter, het in die afgelope ses maande merkbare vrugte afgewerp. Vanjaar is daar reeds bykans 100 vullissakke al verwyder.
“AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak neem eienaarskap van hierdie omgewing en vat die dorp straat vir straat terug. Inwoners is moeg daarvoor om die eens mooie dorp te sien verval,” sê Millicent van den Heever, leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.
Raak vandag nóg by AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.