Talle mense uit vloedwaters in Limpopo gered, danksy gemeenskapsamewerking
AfriForum het die afgelope twee weke ’n beduidende rol gespeel in die redding van minstens 22 mense in Limpopo wat in die vloedwaters vasgekeer was. Dwaalboom, ’n nedersetting in die suidweste van Limpopo, en ander gemeenskappe het op 20 Februarie oorstroom as gevolg van die groot reënval. Talle gemeenskapslede was gevolglik in – en selfs bo-op – hul huise en voertuie vasgekeer.
Van bakkies tot trekkers is ingespan om slagoffers te red. Die diepte en sterkte van die water, asook die konstante reënval, het reddingsoperasies egter bemoeilik.
Danksy AfriForum se samewerkingsooreenkoms met Matlabas Custodians, is twee helikopters ontbied om gemeenskapslede, wat nie op grondvlak gered kon word nie, na veiligheid te bring. Die samewerkingsooreenkoms is einde 2024 onderteken en is daarop gemik om gemeenskapsveiligheid in onder meer Limpopo te bevorder. Luidens Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van Veiligheid in die noordstreek, het geen staatsinstelling meer die vermoë om gemeenskappe in nood te help nie.
Altesaam 22 mense is uiteindelik met die helikopters gered en na ’n veilige plek geneem, terwyl daar oor Limpopo heen talle ander mense ook op grondvlak gered is.
“Hierdie gebeure beklemtoon die noodsaaklikheid van georganiseerde gemeenskapsorganisasies en goeie samewerking tussen plaaslike organisasies, veral in die lig van die staat se onvermoë om doeltreffende hulp tydens rampe te verleen,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture.
Ungerer doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by organisasies wat oplossings bied vir gemeenskappe in nood. AfriForum gaan Jager Aviation en FlyPB se onkostes dra vir hul diens aan die gemeenskap op 20 Februarie. “Hierdie vlieëniers het in uitdagende omstandighede hul hulpbronne en lewens op die spel geplaas om ander veilig tuis te bring. Dit is deel van die samewerkingsooreenkoms wat AfriForum en Matlabas Custodians gesluit het,” sê Ungerer.
Jy kan ’n verskil maak deur ’n donasie aan AfriForum se noodfonds te maak met die verwysing “VLOEDE”.
Banknaam: Eerste Nasionale Bank
Rekeninghouer: AfriForum NPC
Rekeningnommer: 62349898398
Tak: FNB Centurion
Verwysing: Vloede
Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.



