Hoogverraad: Valse bewerings het geen gronde – AfriForum
Enige ondersoek sal bevestig dat daar geen gronde is vir die valse bewerings van hoogverraad wat nou teen AfriForum gemaak word nie. Só reageer AfriForum nadat die uMkhonto weSizwe Party (MKP) vandag ’n klag van hoogverraad in Kaapstad teen die organisasie aanhangig gemaak het en die South African National Civic Organisation (Sanco) ook vandag aangekondig het dat dit later vandeesweek ’n soortgelyke klag teen AfriForum en ander organisasies in Khayelitsha gaan lê.
Volgens Kallie Kriel, hoofuitvoerende beampte van AfriForum, is die klagtes “absurd” en sal dit nie vir slapelose nagte sorg nie. “Dit is die plig van die burgerlike samelewing en organisasies soos AfriForum om die kollig te plaas op wetgewing en optrede wat die welsyn van burgers en die land bedreig. Ons kan nie swyg oor die onreg wat gepleeg word ten koste van Suid-Afrika, sy mense én die Suid-Afrikaanse ekonomie nie en valse bewerings dat AfriForum ‘misleidende inligting’ oor die Onteieningswet versprei het en dít die rede vir die VSA se optrede teen Suid-Afrika is, is blatante leuens,” beklemtoon Kriel.
Klankgreep: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum
“AfriForum het deurentyd juis die feite, soos vervat in die Onteieningswet wat president Cyril Ramaphosa self onderteken het, in die kollig geplaas. Dit is juis gedoen in belang van die land én sy burgers om te wys op die gevare wat die wet inhou vir privaateiendomsreg en die risiko’s wat veral artikel 12(3) van die wet inhou,” benadruk Kriel. Artikel 12(3) van die wet maak in spesifieke gevalle voorsiening vir die onteiening van grond teen nul-vergoeding.
“Die ANC se jare lange roekelose en radikale binne- en buitelandse beleide is die ware rede vir die wankelrige verhoudinge met die VSA en die VSA se onlangse optrede teen Suid-Afrika. Hul optrede teen die belang van die burgers van die land is duidelik in onder meer staatskaping en ander korrupsie soos reeds deur die Zondo-kommissie uitgewys én die versuim van die strafregstelsel om na behore op te tree teen individue wat vir staatskaping en ander vergrype verantwoordelik is. Dit is boonop skynheilig en ironies dat dit juis Jacob Zuma, die leier van die MKP, is wat in sy tyd as president van die land verantwoordelik was vir staatskaping, nou die leier van die party is wat ’n klag van hoogverraad teen AfriForum inbring,” sluit Kriel af.