Nuwe waternutsplan kan net probleme verskuif, maan AfriForum
Die regering se plan om plaaslike regering te herstruktureer met die reservering van begrotings in onafhanklike gelisensieerde waternutsdienste in groot metro’s kan, volgens AfriForum, neerkom op ’n nuwe baadjie met dieselfde probleme. Die burgerregteorganisasie voer aan dat hoewel die model waarop die voorstel gebaseer is, op papier kan werk, die mislukkings waaraan inwoners in munisipaliteite gewoond geraak het, reeds voortgesit word in sogenaamde onafhanklike nutsmaatskappye soos Johannesburg Water en dat verhoogde privatisering eerder nagestreef moet word.
Volgens AfriForum gee die plan erkenning aan munisipaliteite se katastrofiese mislukkings ten opsigte van waterdienste, maar waarsku dat die plan nie noodwendig watersekerheid sal bied nie en bloot finansiële en operasionele beheer sal verskuif sonder om aanspreeklikheid te verseker.
“Die herstel van die land se waterkrisis vereis die afdwing van finansiële dissipline, professionele en onafhanklike bestuur van waterdienste en die aktiewe betrokkenheid van gemeenskappe en die privaat sektor in infrastruktuurontwikkeling,” verduidelik Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
De Klerk benadruk voorts dat die huidige waterkrisis nie aan die struktuur van dienslewering toegeskryf kan word nie, maar eerder volg weens die gebrek aan bevoegdheid, aanspreeklikheid en finansiële dissipline op munisipale vlak. “Tans is munisipaliteite oor Suid-Afrika heen verantwoordelik vir waterdienslewering, tog gaan ongeveer 50% van water verlore as gevolg van lekkasies en wanbestuur. Munisipaliteite se versuim om infrastruktuur op te gradeer en in stand te hou, het waterrade reeds tot op die rand van finansiële ineenstorting gedryf met munisipale skuld wat reeds meer as R22,36 miljard beloop – dáár lê die kern van die probleem wat dringend opgelos moet word.”
Die voorstel om waterinkomste te reserveer en bestuur te desentraliseer kan in teorie help om die wanbesteding van fondse te voorkom. AfriForum meen egter dat verskeie kwessies die haalbaarheid daarvan in die wiele kan ry:
• Wie verseker aanspreeklikheid? Om bloot meer finansiële en operasionele beheer aan munisipale waterdepartemente te gee, waarborg nie beter dienslewering nie. As wanbestuur en politieke inmenging voortduur, sal die probleem onder ’n ander naam voortduur.
• Sal dit munisipale korrupsie voorkom? Sonder streng finansiële toesig kan selfs gereserveerde waterinkomste herlei word, net soos voorwaardelike toelaes in die verlede misbruik is.
• Wat van openbare-private-vennootskappe? Die private sektor en gemeenskappe moet by waterinfrastruktuurprojekte betrokke wees. Plaaslike regerings het reeds gewys hulle kan nie waterbronne doeltreffend op hul eie bestuur nie.
• Professionalisering is betekenisloos sonder afdwinging. Hoewel die voorstel om die mandaat van die Staatsdienskommissie (SDK) na plaaslike regering uit te brei verwelkom word, sal dit slegs doeltreffend wees as daar werklike gevolge is vir die aanstelling van ongekwalifiseerde individue.
“Nog ’n belangrike vraag is, hoe sal dit anders wees as Johannesburg Water? Ons het die laaste paar maande gesien dat Johannesburg Water in ’n skokkende toestand is. Oor die afgelope sewe jaar het Johannesburg Water se salarisse van R840 miljoen tot R1,5 miljard verhoog, terwyl kapitaalbesteding net van R772 miljoen tot R861 miljoen gestyg het, wat hierdie voorstel ’n ernstige bekommernis maak,” sluit De Klerk af.
AfriForum sal voortgaan om gemeenskapsgedrewe oplossings vir watersekerheid te beywer en die regering aanspreeklik te hou vir die mislukkings wat tot hierdie krisis gelei het.