Pasop vir ysterpenlokvalle híér, sê AfriForum
AfriForum maan padgebruikers om hierdie feesseisoen bedag te wees op wat op die pad aangaan en veral paraat te wees om ysterpenlokvalle te vermy. Die organisasie het ook ’n kaart met brandpunte vir hierdie tipe voorvalle, veral in die omgewing van Pretoria, saamgestel.
Die organisasie moniteer al ’n geruime tyd voorvalle waar ysterpenne of klippe op paaie gebruik word om motoriste te teiken. Die AfriForum-buurtwagte het hul ook daarop toegespits om die voorvalle te bekamp en slagoffers by te staan. Hierdie jaar was daar verskeie gevalle waartydens ysterpenlokvalle en ander metodes gebruik is om motoriste te dwing om hul voertuie op openbare paaie tot stilstand te bring, waarna hulle dan beroof is.
Verskeie voorvalle het op nasionale paaie soos die N1, N12, N14, N4, R566 en R80 in die omgewing van Pretoria plaasgevind. Dié kaart wys brandpunte in en rondom Pretoria waar skadelike obstruksies op paaie geplaas is, of gevalle van ysterpenlokvalle op die pad plaasgevind het. Dié soort misdaad is egter nie net beperk tot hierdie omgewing nie en padgebruikers moet oor die algemeen paraat wees ten einde nie slagoffers te word nie.
“Die misdadigers wat hierdie dade pleeg, is elke dag van die week van Maandag tot Sondag daarmee aan die gang. Hoewel misdadigers enige tyd van die dag op motoriste kan toeslaan, wys inligting daarop dat voorvalle meer geneig is om in die aand plaas te vind en tot laat in die nag voort te duur. Die oortreders werk in groepe wat wissel van twee tot tien individue, en misdadigers is gewapen met enige iets van skerp voorwerpe tot handwapens,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid.
Misdadigers gebruik verskeie tegnieke om voertuie te dwing om te stop, van ysterpenne wat op die pad gelê word tot klippe wat die pad blokkeer. Oortreders wat byvoorbeeld langs die R80/R566 Rosslyn-afrit misdade pleeg, het voorwerpe (nie noodwendig spykers nie) gebruik om die snelweg te blokkeer, en voertuie word sodoende gedwing om te stop om die obstruksie te verwyder. ’n Ander metode behels dat hulle klippe na voertuie gooi, in die hoop dat motoriste beheer oor hul voertuie verloor en ’n ongeluk maak.
“AfriForum moedig motoriste wat op hierdie roetes ry aan om waaksaam te wees. AfriForum doen ook ’n beroep op die publiek dat indien hulle kennis dra van gevalle soos dié, hulle dit by die polisie en hul naaste AfriForum-buurtwag sal aanmeld,” sluit Broodryk af.
AfriForum herinner ook graag die publiek aan die volgende veiligheidswenke met betrekking tot die voorvalle:
- Moet onder géén omstandighede die motor stop ná ’n insident waarin die voertuig se bande, voorruit of ander onderdele beskadig is nie. Hou sover moontlik aan met ry tot by ’n veilige bestemming.
- Kontak jou plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappy of nooddiens so gou moontlik en stel hulle in kennis van die voorval. Gee volledige besonderhede rakende die voorwerp wat in die lokval gebruik is en verskaf die adres of ligging daarvan. Dit sal aanvalle op motoriste wat moontlik ná jou op dieselfde manier geteiken word, kan voorkom.
- Maak seker jou selfoon is gelaai voordat jy die pad aandurf.
- Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer jy alleen reis.
- Wees paraat en kom in die gewoonte om vooruit in die pad te kyk om sodoende enige bedreigings, vreemde voorwerpe of mense op of langs die pad betyds raak te sien.
- Stoor die kontaknommers van die nooddienste, buurtwag of sekuriteitsmaatskappy op jou foon.
- Oorweeg dit om ’n nooddienstoepassing, soos die AfriForum 911-paniekknoppie-toepassing, op jou foon te installeer. Dié toepassing is gratis beskikbaar op Google Play Store (vir Android-toestelle) en die App Store (vir iOS-toestelle).
Besoek AfriForum se veldtogblad www.roofroetes.co.za vir gereelde opdaterings oor hierdie veldtog.
Raak vandag nog betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.
