|

AfriForum en verskeie belangegroepe verwerp NGV-wetsontwerp by openbare verhoor in Krugersdorp

Die uitgebreide teenstand teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het vandag duidelik geblyk in Krugersdorp waar AfriForum en verskeie organisasies dié wetsontwerp verwerp het by ’n openbare verhoor wat deur die Gautengse Wetgewer aangebied is. AfriForum voer aan dat dié radikale wetsontwerp in die belang van alle Suid-Afrikaners geskrap moet word – veral in die lig van die ekonomiese onvolhoubaarheid daarvan.

Talle belanghebbers het dié verhoor bygewoon om die onsinnigheid van die ANC se NGV-planne uit te wys. Dit sluit organisasies in soos AfriForum, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) en mediese fondse soos Momentum Health. Dié organisasies verteenwoordig gesamentlik miljoene Suid-Afrikaners. Alhoewel die kommentare gewissel het van algehele verwerping van die wetsontwerp tot kritiek op spesifieke artikels of klousules daarvan, was al die belangegroepe dit eens dat die wetsontwerp in sy huidige formaat nie goedgekeur moet word nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die feëverhaal van gratis gesondheidsorg deur NGV besig om ’n stadige dood te sterf.

“Die ANC probeer hul ideologies gedrewe beleid deurvoer met valse beloftes van alombeskikbare gratis gesondheidsdienste, maar die publiek is nie so oningelig as wat hulle gehoop het nie,” verduidelik Boshoff. “Jy kan nie aan die een kant die vryheid en winsgewendheid van die gesondheidsektor wegneem en aan die ander kant verwag dat gesondheidsorg meer geredelik beskikbaar sal wees nie – dit was vandag die duidelike boodskap.”

Die NGV-wetsontwerp is al in 2019 saamgestel en is reeds deur ’n ANC-meerderheid in die Nasionale Vergadering van die parlement goedgekeur, maar die Nasionale Raad van Provinsies moet nog daaroor stem. Voordat dit egter kan gebeur moet daar geleentheid gebied word vir burgerlike insette uit al die provinsies. Openbare verhore moet nog in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal gehou word. Dit is hier waar AfriForum sal voortgaan om die geleentheid aan te gryp om openbare druk teen die wetsontwerp op te bou.

AfriForum moedig lede van die publiek aan om NGV teen te staan by openbare verhore of deur www.jougesondheid.co.za te besoek vir verdere inligting.

Soortgelyke plasings