Selfs George se polisiestasie kan op dié AfriForum-buurtspan staatmaak
Deur Megan Swart
Die hande wat dele van die Tuinroete onderhou is dalk min, maar hulle staan vir niks verkeerd nie – nie eens vir die werk wat die George Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) hul mee gelas het om die afgelope paar maande by die plaaslike polisiestasie te doen nie.
AfriForum se Eden-buurtspan, wat deur middel van die nuutgestigte Eden Konfederale Raad (EKR) die gebiede van Knysna, Mosselbaai, George en Oudtshoorn bedien, het vir vier maande lank heelwat projekte by die George-polisiestasie aangepak.
In Julie het die span ’n boom wat in die polisiestasie se vierkant omgewaai het en ’n groot gevaar vir personeel ingehou het, gaan afsaag. In Augustus het die span ook 420 kg teer gebruik om slaggate by die stasie se parkeerterrein op te vul. In September het die span voortgegaan om die parkeerterrein op te gradeer deur 20 liter verf te gebruik om die strepe oor te verf. Meer onlangs het die span ’n kantoor in die stasie nuut uitgeverf en opgeknap.
“’n Veilige, funksionele en goed versorgde polisiestasie is ’n noodsaaklike deel van ’n veilige gemeenskap. Terwyl AfriForum se buurtspan intree om die nodige instandhoudingswerk te doen, kan polisielede hul aandag op misdaadbekamping en die beskerming van inwoners toespits,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Min, maar toegewyd

Dag-tot-dag hou Jan Moolman, Khalio Hector en Christo Gouws – almal voltydse lede van hierdie klein buurtspan – hulself besig met die skoonmaak en verfraaiing van die verskillende dorpe. Hulle word selfs ingeroep om slaggate te herstel, strepe te verf en as broodnodige mannekrag te dien. Hierdie span het net onlangs in samewerking met die organisasie Revive Sedgefield 550 pale vervang in ’n heining langs die N2 in Sedgefield.
Behalwe vir die werk wat hulle in hul tuisdorp doen, reis dié drie manne per week gemiddeld 450 km om al die verskillende gebiede te bedien. Een van die areas waarna hulle omsien is Oudtshoorn, waar hulle heelwat projekte by Laerskool Wesbank aanpak. Onlangs het hulle sekuriteitsligte by die skool geïnstalleer, van die elektriese bedrading herstel en veiligheidshekke by klaskamers ingesit. Hulle het ook al drie dae lank spandeer om die plaaslike parke se gras te sny en bome te snoei.
“Hierdie buurtspan en die lede wat dit uitmaak is van onskatbare waarde. In die verlede het AfriForum slegs op vrywilligers staatgemaak om projekte soos hierdie aan te pak, maar sedert ’n voltydse buurtspan aangestel is, word volhoubare verandering teweeg gebring,” sê Erasmus.



