Melgisedek-verskuiwing: Oorwinning vir menseregte ná hof aansoek vir afdwing van hofbevel van die hand wys
AfriForum bestempel die Hooggeregshof in Pretoria se beslissing gister (26 Mei 2026), om die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se artikel 18(3)-aansoek vir die implementering van ’n hofbevel vir die hervestiging van nagenoeg 450 inwoners van die Melgisedek-gebou van die hand te wys, as ’n oorwinning vir menseregte. Die burgerregteorganisasie hou vol dat die hof se weiering om ’n vorige hofbevel vir inwoners se verskuiwing na ’n tentedorp in Gezina, in die Pretoriase Moot, te midde van ’n appèlproses af te dwing, boonop bevestig dat behoorlike regsprosesse nie deur haastige en ondeurdagte optrede omseil kan word nie.
Die Tshwane-metro se aansoek volg ná AfriForum se vroeëre aansoek om ’n dringende interdik in Maart vanjaar afgekeur is. Dié regsproses het aan ander rolspelers, insluitende die organisasie Lawyers for Human Rights, tyd gegun om hul sake behoorlik voor te berei en op hul beurt doeltreffende teenkanting te bied teen die metro se ondeurdagte plan. Sonder AfriForum se aanvanklike ingryping sou die Tshwane-metro waarskynlik reeds die gedwonge verskuiwing van inwoners uitgevoer het.
AfriForum beklemtoon dat die beplande verskuiwing verreikende gevolge vir die Melgisedek-inwoners sowel as inwoners van Gezina sal inhou.
Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se woordvoerder vir Pretoria, beklemtoon die Melgisedek-saak die noodsaaklikheid van burgerlike organisasies en gemeenskapsinstellings se vinnige optree wanneer owerhede probeer om prosesse af te dwing sonder voldoende inagneming van die relevante menslike en regsimplikasies.
“Ons almal stem saam dat die omstandighede waarin die Melgisedek-inwoners tans leef nie aanvaarbaar of geskik is nie. Die oplossing lê egter nie daarin om die probleem bloot te verskuif nie – veral nie na ’n tentedorp wat herinner aan ’n konsentrasiekamp nie. Ons doen eerder ’n beroep op die metro om met gemeenskappe en rolspelers saam te werk om volhoubare en menswaardige oplossings vir dié uitdaging te vind,” verduidelik Hemmens.



