|

Om te streef na “radikale normaliteit”

Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum

In die land van die blindes is eenoog koning. In ’n land waar abnormaliteit normaal geword het, word diegene wat veg vir die handhawing van normaliteit, uitgekryt as gekke.

Enige land met 145 raswette is abnormaal. Hierdie gekheid is egter die afgelope 30 jaar reeds so genormaliseer in Suid-Afrika dat organisasies soos AfriForum en Solidariteit wat hierdie rasmalheid uitwys en teenstaan beskuldig word van hoogverraad, die verspreiding van misinformasie en verdelende of antidemokratiese gedrag.

Volgens beskikbare data is daar van 2023 tot 2025 ’n gemiddeld van 38 plaasmoorde per jaar gepleeg. Plaasaanvalle gaan boonop dikwels gepaard met hoë vlakke van geweld en selfs marteling, en intussen sing politici “Kill the Boer” uit volle bors voor stampvol stadions. Dit kan nie as normaal afgemaak word nie.’n Bejaarde plaasvrou wat doodgemartel word met ’n elektriese boor, mag nooit aanvaar word as “normale misdaad” nie. Ek verwerp ten sterkste die kriteria wat ’n geval van ’n boer se kind wat verdrink word in ’n bad kokende water afskryf as bloot “normale misdaad”.

Die skryf van die woorde “Kill the Boer” met bloed op die muur van ’n plaasmoordtoneel is nie normaal nie. Tog word diegene wat dit durf waag om internasionale aandag te vestig op hierdie abnormale misdaad, beswadder, bespot en geïntimideer. Indien hul aktivisme anoniem is, word hul identiteit, asook die identiteit van hul vrou en hul bejaarde ouers openbaar gemaak deur ’n mediaheksejag, soos wat gebeur het met die X-rekening Twatterbaas.

’n Regering met die mag om enige persoon se eiendom sonder vergoeding te kan onteien, is hoogs abnormaal en gevaarlik. ’n Radikale president soos Cyril Ramaphosa wat Robert Mugabe se rampspoedige, gewelddadige grondgrype beskryf as “ambisieus” en “noodsaaklik” mag nie genormaliseer word nie. Diegene wat die ANC glo wanneer hulle verkondig dat hulle grond wil sonder vergoeding onteien, is nie die gekke van die samelewing nie, hulle gebruik doodeenvoudig hul gesonde verstand.

’n Regering wat buitensporige hoë belastings eis, maar waarvan die belastingbetalers – volgens die berekeninge van die ekonoom Dawie Roodt – slegs 5 sent se waarde ontvang vir elke rand wat ingevorder word, is abnormaal. ’n Land waar meer as 50% van huishoudings minstens een staatstoelaag ontvang, is ongehoord. ’n Land waar nagenoeg 1,5% van die bevolking 60% van alle persoonlike inkomstebelasting betaal, is ’n tydbom. Om dit uit te wys en verdere belastingverhogings teen te staan, is om aan die kant te wees van “radikale normaliteit”.

In ’n normale land is ’n jaar sonder beurtkrag die norm en nie die uitsondering nie. Die “radikale normaliteit” wat AfriForum en die Solidariteit Beweging terugeis en waarvoor hulle veg, behels paaie sonder slaggate. Dit behels die opsie van privaat mediese skemas en hospitale, eerder as net nóg ’n inploffende staatsmonopolie. Dit behels belastinggeld wat vir alle burgers werk, skoon drinkwater in ons krane, veilige buurte waar kinders in die strate kan speel, parkies waar die gras gesny word en skoolsportspanne wat op meriete, eerder as op velkleur gekies word.

Die maklike uitweg is om die abnormale stand van sake te aanvaar of selfs te loof. My uitdaging aan diegene met gesonde verstand is egter om saam met AfriForum te veg vir “radikale normaliteit”, al word jy meedoënloos geëtiketteer. Soos C.S. Lewis uitgewys het, “Wanneer die hele wêreld in die rigting van ’n krans hardloop, lyk dit asof die persoon wat in die teenoorgestelde rigting hardloop, sy verstand verloor het.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners, Veiligheid, Magsmisbruik