AfriForum en gaob Witbooi oorhandig Afrikaanse opvoedkundige materiaal aan Hoërskool Carnarvon
AfriForum en gaob (kaptein) John Cornelius !Kham-aob Witbooi het onlangs leerhulpmiddels, waaronder verskeie vakplakkate in Afrikaans, aan die Hoërskool Carnarvon oorhandig wat deur die adjunkhoof, David Jason, in ontvangs geneem is. Die skenking volg op ’n besoek van AfriForum aan gaob Witbooi en Carnarvon wat gefokus het op moontlike volhoubare samewerking tussen die Witbooi-Namastam van Suid-Afrika en AfriForum. ’n Opvolgbesoek word reeds beplan waartydens bydraes tot die ander skole in Carnarvon, en die in Vosburg en Vanwyksvlei, gemaak sal word.
“Die doel van die samesprekings en besoek aan Carnarvon was om begrip te ontwikkel vir die uitdagings wat Carnarvon, die Kareeberg Plaaslike Munisipaliteit en ook die Witbooi-Namastam van Suid-Afrika in die breë in die gesig staar en om te bepaal hoe daar moontlik tot wedersydse voordeel van ons onderskeie kultuurgemeenskappe op voetsoolvlak saamgewerk kan word. Ons staar groot uitdagings in die gesig, dienslewering het ’n laagtepunt bereik en werkloosheid en armoede neem deurgaans toe. Ek sien uit na die resultate wat uit die samewerking sal spruit en waardeer die medemenslikheid en respek waarmee ons met mekaar kon omgaan,” sê gaob John Cornelius !Kham-aob Witbooi, gaob van die Witbooi-Namastam van Suid-Afrika.
“Daar is baie belange wat deur verskillende kultuurgemeenskappe binne die land gedeel word. Die behoorlike erkenning van kultuurgemeenskappe is een daarvan, en die Nama-familiestamme en hul leiers word ook daardeur geraak. Die lang verloop van hul erkenningsproses belemmer leiers se praktiese vermoë om hul gemeenskappe te dien en lei soos wat hulle graag wil. Dit is vir AfriForum ’n voorreg om hierdie pad van wedersydse erkenning en samewerking met die Witbooi-Namastam van Suid-Afrika te begin loop,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.
“Ons onmiddellike fokus is om wedersydse erkenning en samewerking te formaliseer en om te bepaal watter gesamentlike projekte ons op voetsoolvlak kan aanpak wat kan bydrae om ’n toekoms vir ons gemeenskappe se kinders te verseker. Blywende goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe, gegrond op wedersydse erkenning en respek, is noodsaaklik vir die vervullende voortbestaan van almal in die land. Die beste manier om dit te vestig is om nie net te praat nie, maar te doen, dit is waarop ons fokus,” sê Bernard Pieters, Suidstreekhoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
Gesprekke oor moontlike samewerking tussen AfriForum en die Witbooi-Namastam van Suid-Afrika het ’n aanvang geneem tydens die jaarlikse Afrikaner-Namafamiliestam-fees in Oktober 2025 in Glencairn in die Wes-Kaap waar Gaob Witbooi aan AfriForum voorgestel is deur gaob Karl Jeremias Afrikaner, gaob van die Afrikaner-Namafamiliestam in Suid-Afrika. Die lede van die verskeie Nama-familiestamme van suidelike Afrika is meestal woonagtig in Namibië en Suid-Afrika. Gaob Witbooi neem ook leiding met die organisering van die jaarlikse Namafees in Carnarvon.



