AfriForum gereed om Mangaung in hof te pak oor vullisverwydering in Bloemfontein
AfriForum is gereed om die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit die styd in die hof aan te sê oor die swak – of dikwels geen – vullisverwydering wat in Bloemfontein plaasvind. Vullisverwyderingsprobleme in die Rosestad kom al jare en AfriForum het sy eie vullisverwyderingsdiens in 2020 van stapel gestuur om te help. Dié burgerregteorganisasie het ook al ’n petisie van meer as 700 inwoners aan die metro oorhandig waarin kwytskelding van die betaling vir vulliswerwyderingsdienste geëis word.
Sello More, die Mangaung-metro se munisipale bestuurder, het in die metro se opponerende eedsverklaring in reaksie op AfriForum se hofaansoek oor die volgehoue mislukking van vullisverwyderingsdienste onder meer aangevoer dat die vullisverwyderingsdiens nie in ’n krisis verkeer nie en dat inwoners steeds verplig is om vir die diens te betaal al maak hulle van privaat diensverskaffers gebruik.
“AfriForum het met verteenwoordigers van die metro vergader waar hulle verduidelik het dat hul uitdagings meestal finansieel van aard is. Ons het steeds ons bekommernisse te kenne gegee. Ons het hulle ook versoek om hul aksieplanne vir ons te stuur wat ook moontlik aanpassings aan tariewe sal insluit. AfriForum se regspan sal die tariewe teenstaan,” sê Christo Groenewald, AfriForum se Bloemfontein-distrikskoördineerder.
AfriForum en die Mangaung-metro beplan om ’n memorandum van verstandhouding te onderteken, maar Groenewald sê AfriForum sal steeds die metro vir swak dienslewering aanspreeklik hou.
“Die metro is aanspreeklik vir die verval van infrastruktuur en swak dienslewering in Bloemfontein, wat die fiasko met vullisverwydering insluit. Ons sal weer met hulle vergader, maar inwoners wat nie van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie en self ander diensverskaffers hiervoor moet betaal moet van hierdie tariewe op hul munisipale rekeninge kwytgeskel word,” verduidelik Groenewald.
AfriForum se hofsaak sal voortgaan en poog om die regsbeginsel te bevestig dat inwoners nie verplig behoort te wees om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie; dat inwoners die reg het om alternatiewe diensverskaffers te gebruik; en dat die metro aanspreeklik gehou moet word vir die versuim om basiese dienslewering te verseker.
Hoewel die metro in sy eedsverklaring beweer dat daar prosedures bestaan om geskille te besleg, bly die realiteit dat hierdie meganismes – te midde van die voortdurende vulliskrisis – in praktyk onvoldoende en ondoeltreffend is.
“Die metro se swak dienslewering bedreig inwoners se gesondheid en plaas ’n ekstra finansiële las op hul skouers. Dit kan nie langer geduld word nie,” sluit Groenewald af.



