AfriForum se nuwe boeliegids vir ouers nou beskikbaar
Boeliegedrag in skole is ’n ernstige en wydverspreide probleem wat ’n groot aantal kinders raak. Elke jaar word duisende gevalle aangemeld en hierdie gedrag beïnvloed nie net slagoffers se emosionele welstand nie, maar ook hul skoolprestasie. Om dié probleem te takel het AfriForum al in 2018 sy eerste teenboeliegids vrygestel. Dit is in 2023 opgevolg met die organisasie se kuberboeliegids. Die nuutste gids in dié reeks, Boelie- en kuberboeliegedrag by skole: ’n Praktiese gids vir ouers, is pas bekendgestel en bied raakvat raad aan ouers oor hoe om hul kinders op ’n praktiese wyse en in ooreenstemming met die wet teen boelies te beskerm.
’n Breë definisie van boeliegedrag is wanneer iemand herhaaldelik of doelbewus ’n ander persoon seermaak, verneder, bangmaak of uitsluit deur fisieke optrede, woorde, sosiale gedrag of aanlyn boodskappe. Hierdie gedrag benadeel die persoon wat geboelie word se menswaardigheid, veiligheid en emosionele welstand. Daar is verskeie wette wat kinders se regte beskerm en skole is verantwoordelik om leerders by die skool en tydens skoolaktiwiteite te beskerm. Selfs by skole waar alles moontlik gedoen word om te verseker dat boeliegedrag hok geslaan word, kan daar steeds gevalle opduik waar leerders geteister word en dit is wanneer ouers moet intree.
“Wanneer ’n ouer vermoed hul kind word geboelie, moet hulle kalm bly en ’n veilige ruimte skep waar die kind gemaklik kan praat. Die ouer moet luister sonder om te onderbreek, oop vrae vra om soveel moontlik feite te kry en empatie toon. Vermy paniek en moenie die kind se gevoelens afmaak of sê hy of sy moet dit net ignoreer nie,” verduidelik Mari-Louise Erasmus, AfriForum projekkoördineerder vir Onderwys in die noordstreek.
Erasmus benadruk dat dit belangrik is vir ouers om amptelike prosesse by die skool te volg, gevalle aan te meld en, indien nodig, ’n skriftelike klag in te dien. Ouers moet ook alle insidente, datums, tye en moontlike bewyse, soos byvoorbeeld skermskote, dokumenteer en bewaar.
Skole het ’n plig om boelie-insidente te ondersoek en die nodige stappe te doen om leerders daarteen te beskerm. Ouers kan egter ook die skool se beheerliggaam, die Departement van Onderwys, verskeie hulplyne, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en selfs die hof om hulp nader.
“Baie ouers dink nog net aan die fisieke aspekte van boeliegedrag, maar kuberboeliery is vandag ook ’n ernstige probleem. Dit gebeur aanlyn deur middel van slimfone, rekenaars en sosiale media. Voorbeelde sluit onder meer in lelike boodskappe op WhatsApp of SMS, foto’s of video’s wat sonder toestemming gedeel word, of gevalle waar iemand op aanlyn platforms geteister word. Die hantering van kuberboeliegedrag kan op ’n soortgelyke wyse as dié van fisieke boeliegedrag geskied,” sê Erasmus.
Boelie- en kuberboeliegedrag by skole: ’n Praktiese gids vir ouers, is daarop gemik om ouers direk te bemagtig met kennis en praktiese stappe om hul kinders te beskerm teen boelie- en kuberboeliegedrag. Dit fokus op hoe ouers hul kind emosioneel kan ondersteun, formele klagte by die skool kan hanteer en hoe ernstige gevalle by die SAPD aangemeld of met ’n beskermingsbevel beredder kan word.



