|

Die naamsverandering van Graaff-Reinet en elders – kortpad na konflik

deur Alana Bailey

Sedert die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, op 26 Januarie vanjaar aangekondig het dat hy 21 geografiese naamsveranderings in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal goedkeur, het die stof nog nie gaan lê nie. Interessant genoeg was die grootste teenstand nie van die enkele stad onder die groep, naamlik Oos-Londen, afkomstig nie, maar van Graaff-Reinet, die 240 jaar oue dorp in die hart van die Camdeboo.

Afhangend van hoe jy dit bepaal, is Graaff-Reinet die vyfde of sesde oudste dorp in die land, met meer nasionale monumente as enige ander stad of dorp in Suid-Afrika. Die dorp en omgewing het al ’n indrukwekkende oes boorlinge opgelewer – insluitend die Groot Trek-leiers Andries Pretorius en Gerrit Maritz, president Thomas François Burgers, Anglo-Boereoorloggeneraal Nicolaas Smit, Thomas Bain (seun van die bergpasbouer Andrew Geddes Bain), onderwysbaanbreker Fred Hufkie, paleontologiespesialis dr. Sidney Rubidge, aktrise Anna Neethling-Pohl, sake- en bewaringsleier dr. Anton Rupert en die stigter van die PAC, Robert Sobukwe, na wie die dorp nou vernoem word.

Sedert die aankondiging van naamsverandering is hierdie dorp se ryk verskeidenheid inwoners skielik dramaties gepolariseer. Op sosiale media sê mense mekaar sleg en hierdie houding spoel selfs oor na gemeenskappe elders in die land. ’n Gereelde verskoning vir naamsveranderings is dat dit nasionale samehorigheid moet bevorder, maar hierdie gebeure bewys die teendeel.

Die verdere uitkoms is dat die meerderheid mense in dié dorp reeds aangedui het dat hulle die verandering teenstaan. Hulle voel nou dat owerhede nie op hul stem ag slaan nie. Hierdie teleurstelling kan apatie veroorsaak wat net negatiewe gevolge kan hê.

Vrae word oor openbare raadplegingprosesse wat gevolg is, gevra. Verder is daar ook frustrasie oor die gebrek aan reaksie van die minister in antwoord op prokureursbriewe van onder meer die gemeenskap en organisasies soos AfriForum.

Petisies is opgestel en geniet groot steun. Byna 40 000 ondertekenaars het al daardeur standpunt teen die verandering van die name van Graaff-Reinet, Oos-Londen, Adendorp en Aberdeen ingeneem. Op 28 Februarie vanjaar het honderde mense aan ’n vreedsame protesaksie ten behoud van Graaff-Reinet se naam deelgeneem, terwyl honderde weer op 14 Maart aan ’n soortgelyke aksie ten gunste van die nuwe naam deelgeneem het.

Lesse wat uit die gebeure geleer kan word, is dat wanneer gemeenskappe voel dat hul stemme nie gehoor word nie, hulle nie moed moet opgee nie, maar moet organiseer en aanhou opstaan vir dit wat vir hulle belangrik is. Dit sluit erfenissake in, want tans is ideologiesgedrewe politici, opportuniste, vandale en selfs finansiële uitdagings besig om onvervangbare spore van ons verlede uit te wis. Dit bly ons verantwoordelikheid om dit vir komende geslagte te bewaar.

Dit is ook nodig om waaksaam te wees. Die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name 118 van 1998 word tans hersien en is tot 5 April 2026 oopgestel vir openbare insette. Vrae oor ander plekname in die land, insluitend Pretoria, duik voortdurend op en bewys dat hierdie hoofstuk in die land se naamsveranderingsaga nog glad nie die einde is nie.

Voorsorg bly beter as nasorg en dit geld ook vir prosesse soos hierdie wat so dikwels gebruik word om die aandag en begrotings van vele ander krisisse in ons land weg te lei. Ons kan nie dorpsname met ’n kosbare kultuurhistoriese inhoud soos Graaff-Reinet inboet ter wille van die oëverblindery nie.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners, Magsmisbruik