Louis van der Vyver lewer 'n toespraak oor karakter-ontwikkeling aan die Laerskool Gordonsbaai se prefekte
|

AfriForum maak rolmodelle van Laerskool Gordonsbaai-prefekte

AfriForum het op 16 Januarie die Laerskool Gordonsbaai se graad 7-prefekte bemagtig met ’n praatjie wat hulle sal help om met dié belangrike rol vanjaar ’n goeie voorbeeld vir ander jongmense te wees.

Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, het die prefekte toegespreek. Die aanbieding het gefokus op karakter-ontwikkeling en die etiese waardes wat kultuur, geloof en sosio-ekonomiese verskille troef. Van der Vyver het beklemtoon dat ware leierskap nie oor gesag gaan nie maar oor diensbaarheid, integriteit en die bereidwilligheid om die regte ding te doen, wat voortspruit uit beginsel en nie gerief nie.

“Prefekte is rolmodelle. Die keuses wat julle daagliks maak, beïnvloed nie net jul eie toekoms nie maar ook dié van ander om julle. Die mensdom is nie gebore met goeie morele karakter nie, daarom moet pligsgetroue pogings aangewend word om jongmense te help om die waardes en vermoëns te ontwikkel wat nodig is vir morele besluitneming en gedrag,” het Van der Vyver tydens sy toespraak gesê. Hy het die leerders aangemoedig om met selfvertroue leiding te neem en altyd respek, dissipline en verantwoordelikheid uit te leef.

Die karakter-ontwikkeling steun op ses pilare van karakter naamlik betroubaarheid, respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, omgee en burgerskap. Hierdie aanbieding bied ook ’n  geleentheid vir jeug om waardes aan te leer, wat tuis nie noodwendig as prioriteit beskou word nie. Verder word skole toegerus met vaardighede om die jeug ’n vooruitsig te gee van ’n beter toekoms, dus is hierdie program se teiken nie slegs enkelvoudig nie maar gemik op die gemeenskap in geheel.

Die opleiding bestaan uit vier belangrike afdelings/stappe waaronder die opleiding van opvoeders, wat bestaan uit teoretiese asook praktiese take, wat introspeksie, die ses pilare, berading en dissipline behels; en die opleiding van die skool se verteenwoordigende raad van leerlinge, wat fokus op die rol van leierskap-karakter, probleem-hantering deur middel van karakter, berading aan skoliere oor karakterbou en om ’n karakter-vriendelike omgewing te skep. Die opleiding gee ouers ook wenke oor hoe om ondersteuning te bied in hul rol as primêre karakter-bouers en om die skool te help om suksesvolle transformasie van karakter te verseker;  en laastens is die opleiding gedrewe op gemeenskapsbetrokkenheid waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums (GPFs), geloofinstellings en gemeenskapsleiers betrek word met inligtingsessies om te verseker dat hulle die nodige ondersteuning ontvang.

AfriForum glo sterk in die ontwikkeling van jong leiers en beskou skole as ’n belangrike fondament vir volhoubare gemeenskappe. Deur sulke betrokkenheid wil AfriForum bydra tot die vestiging van positiewe waardes en leierskap, wat ’n langtermyn verskil kan maak.

AfriForum bedank die Laerskool Gordonsbaai vir die geleentheid om deel te wees van hierdie betekenisvolle dag en wens die nuwe prefekte alle sukses toe met hul leierskaprolle vir die jaar.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf