|

Matriekslaagsyfer skep wanindruk van onderwys – AfriForum

Klankgreep: Carien Bloem (Afrikaans)
Klankgreep: Carien Bloem (Engels)

AfriForum neem kennis van die 2025-matriekslaagsyfer, maar meen dit skep ’n onakkurate beeld van die ware toedrag van sake in die Suid-Afrikaanse onderwysstel, waar soveel leerders nooit hul skoolloopbaan voltooi nie. Die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae is gisteraand bekendgemaak.

Nagenoeg 1,2 miljoen leerders het in 2014 hul skoolloopbaan in graad 1 begin. Hiervan het slegs 778 000, oftewel nagenoeg 65% van leerders, teen 2025 tot matriek gevorder. Die onderwysstelsel het dus sowat 422 000 leerders lank voor graad 12 reeds in die steek gelaat.   

“Wanneer ’n mens kyk na hoeveel hoopvolle leerders met groot potensiaal graad 1 begin, maar uiteindelik nooit matriek bereik of slaag nie, word dit duidelik dat die probleem nie in hul matriekjaar ontstaan het nie,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum. “Dit is ’n stelselmatige mislukking wat oor jare ontwikkel en veral kinders in disfunksionele skole swaar tref.”

AfriForum waarsku dat die hoë aantal disfunksionele skole in Suid-Afrika, waar onderrig dikwels onreëlmatig, ontoereikend of van swak gehalte is, ’n direkte invloed het op leerders se akademiese prestasie en langtermynvooruitsigte. Belangrike vaardighede wat leerders moet aanleer om ’n goeie fondasie te vorm soos lees, skryf, oplos van wiskundige probleme, en die ontwikkeling van kritiese denke bly agterweë wat dan hul latere akademiese sukses negatief beïnvloed.

“Die situasie word vererger deur uiteenlopende onreëlmatighede soos die uitlek van  vraestelle wat die geloofwaardigheid van die matriekeksamenstelsel ondermyn en ’n valse beeld van prestasie skep. Dié sake doen leerders wat wel onder moeilike omstandighede probeer slaag, ’n groot onreg aan,” sê Bloem.

Volgens AfriForum dra hierdie kombinasie van disfunksionele skole, swak bestuur, ’n gebrek aan aanspreeklikheid en eksamenonreëlmatighede daartoe by dat talle leerders nie die gehalte van onderwys ontvang waarop hulle geregtig is nie. Benewens die negatiewe impak op akademie, hou dit ook ernstige gevolge jongmense se toegang tot verdere studie, indiensneming en volwaardige deelname aan die ekonomie in.

AfriForum doen ’n beroep op die Departement van Basiese Onderwys om minder fokus te plaas op die kwansuise hoë matriekslaagsyfer as politieke maatstaf, en meer aandag te gee aan vroeë kinderontwikkeling, gehalteonderrig in die grondslagfase, die herstel van disfunksionele skole en streng optrede teen eksamenonreëlmatighede.

“Die ware maatstaf is van sukses in die onderwys mag nie net berus op die persentasie van matrikulante wat matriek slaag nie, maar op die getal leerders wat met graad 1 begin, die stryd enduit voer en uiteindelik die onderwysstelsel aan die einde van matriek verlaat met die kennis en vaardighede wat hulle in staat stel om vir hulself ’n voorspoedige toekoms uit te kerf,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf