Privaat brandweerdienste nie in Tshwane-metro onwettig, bevind hof
Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se regsgeding om privaat brandweerdienste wat in die metro funksioneer onwettig te laat verklaar, het gefaal. Die Pretoriase Hooggeregshof het vandag die metro se saak met koste van die hand gewys. AfriForum se regspan het die Sinoville-brandbestrydingsvereniging (SBBV) in hierdie saak bygestaan.
Die hof het bevind dat die lewering van brandbestrydingsdienste deur ondernemings aan hul kliënte en deur vrywilligers verbonde aan verenigings nie deur wetgewing verbied word nie. Privaat brandweerdienste mag egter nie met die brandweer se bevoegdhede inmeng soos deur die Wet op Brandweerdienste gemagtig word nie.
“Die uitspraak in hierdie waterskeidingsaak is in die belang van alle Suid-Afrikaners. Waar lewensbelangrike munisipale dienste soos brandbestryding tekortskiet, is dit vrywilligers, private ondernemings en gemeenskapsorganisasies wat die mas opkom,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
AfriForum rig eersdaags ’n skrywe aan die metro waarin versoek word dat alle vorige kommunikasie waarin die metro se brandweerdienste ontmoedig word om saam met organisasies soos die SBBV te werk, teruggetrek word.
“In plaas daarvan om teen mekaar te werk, moet daar eerder hande gevat word om, in die belang van inwoners, ’n doeltreffende en produktiewe samewerkingsverhouding te kweek,” voeg Cooks by.
AfriForum sal voortgaan om hom vir ’n billike, inklusiewe en doeltreffende benadering tot brandveiligheid te beywer.



