|

Parke speel ’n sleutelrol in sosiale, ekonomiese en fisiese welstand

Deur Zel-Marí Gelderblom

As kind het parke my altyd diep geraak – groen ruimtes tussen beton waar kleurvolle swaaie en klimrame soos simbole van spel en moontlikheid staan. Selfs vanuit ’n motorvenster kon ’n mens die lewenslus en gemeenskapsgees voel. Daardie helder kleure en die lag van kinders het gewys dat stede ook kan asemhaal. Vandag besef ek parke is veel meer as speelplekke; dit is dinamiese ruimtes wat die menslikheid van ’n dorp of stad beliggaam.

Parke is noodsaaklik vir gesonde, veerkragtige gemeenskappe. Terwyl dorpe en stede groei en klimaatsverandering druk verhoog, gebruik beplanners, owerhede en gemeenskapsorganisasies parke om fisiese aktiwiteit, veilige ruimtes en biodiversiteit te bevorder. Bome suiwer die lug, koel stede af en bied natuurlike waterfiltrasie. Parke verhoog eiendomswaardes, stimuleer ekonomieë en verbeter gemeenskapsbetrokkenheid.

Wanneer openbare groen ruimtes goed ontwerp en toeganklik is, ondersteun dit gesondheid, sosiale interaksie, ontspanning en gelykheid. Parke bied veilige speelruimtes vir kinders, oefengeleenthede vir volwassenes en ontmoetingsplekke vir gemeenskappe. Dit verlaag stres en voorkom kroniese siektes, terwyl dit ook ’n belangrike rol speel in omgewingsbewaring deur ’n habitat te bied vir inheemse plante en diere. Dit is ook waarom die beskerming van bestaande parke so belangrik is.

AfriForum het onlangs inwoners van Oudtshoorn gevra om dringend deel te neem aan die openbaredeelnameproses oor die voorgenome verkoop van 54 erwe, insluitend byna al die gemeenskapsparke soos in Luscombe en Middelweg, wat AfriForum sedert 2019 onderhou. Hierdie parke bied groen ruimtes vir ontspanning en samehorigheid en die verlies daarvan sal onomkeerbaar wees. Die organisasie het reeds beswaarskrifte ingedien, ’n petisie met 260 handtekeninge oorhandig en meer as 1 000 inwoners gehelp om kommentaar te lewer. Hulle beklemtoon dat hierdie parke in volwaardige, geliefde ruimtes ontwikkel is en dat vervanging weens koste en ’n gebrek aan dienste onhaalbaar is.

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, waarsku dat slegs aktiewe deelname die parke kan red. Sonder insette kan die munisipaliteit dit verkoop of sloop – ’n groot verlies vir huidige en toekomstige geslagte. Dit reflekteer ’n breër uitdaging: die toenemende druk op stedelike parke te midde van beperkte befondsing, swak onderhoud en groeiende ontwikkeling.

Die basiese waarde van openbare oop ruimtes is dat dit nie luukshede is nie, maar noodsaaklike bates wat gesondheid, veiligheid en gemeenskapsamehorigheid bevorder. Hoewel munisipaliteite rentmeesters is, behoort hierdie ruimtes aan die publiek. Wanneer dit verkoop word, verloor gemeenskappe iets wat nie vervang kan word nie. Beleidsraamwerke soos die GOP, Nasionale Ontwikkelingsplan en VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte bevestig dat hierdie ruimtes beskerm en nie verkoop moet word nie.

Daar is volhoubare modelle om parke te onderhou, soos samewerking met inwoners en organisasies. AfriForum se takke bewys dit daagliks. In Upington is verwaarloosde speelparke binne twee dae opgeknap – van vars verf tot herstelde toerusting en nuwe veiligheidsmaatreëls. Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is die doel eenvoudig: veilige, gesellige ruimtes waar gesinne weer herinneringe kan bou.

Intussen het AfriForum sterk gereageer op die Johannesburgse metro se moontlike voorneme om sekere sport- en erfenisterreine te verkoop of te verhuur. Die organisasie het duidelikheid geëis oor die presiese terreine en die aard van die beplanning. Marais de Vaal, raadgewer vir omgewingsake by AfriForum, benadruk dat groen ruimtes noodsaaklik is vir stedelike lewenskwaliteit: om dit vir korttermyn finansiële verligting op te offer, is desperate optrede waarvan die gevolge permanent is. Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, waarsku verder dat die verkoop van historiese terreine neerkom op ’n miskenning van die stad se kultuurerfenis.

Parke staar vandag wêreldwyd uitdagings in die gesig: beperkte befondsing, weerstoestande, ontwikkelingsdruk en onderhoudsagterstande. Maar voorbeelde soos San Francisco wys dat goeie bestuur, toegewyde befondsing en samewerking groot verbeterings moontlik maak.

Die boodskap is duidelik: Parke is kernelemente van gesonde, inklusiewe en volhoubare gemeenskappe. Deur te belê in ontwikkeling, instandhouding en toeganklikheid kan dorpe en stede lewenskwaliteit verhoog, sosiale bande versterk en ekonomiese groei ondersteun. As ons gemeenskappe vir die toekoms wil versterk, moet parke ’n prioriteit bly – vir mense, vir die natuur en vir die gemeenskap as geheel.

Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook ’n aanbieder van AfriForum in Fokus.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf