|

Spoedige optrede nodig om gesondheidsrisiko’s in Heilbron te beperk

Die AfriForum-tak in Heilbron doen opnuut ’n dringende beroep op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit om onmiddellike in te gryp ná ernstige omgewings- en gesondheidsrisiko’s in Heilbron na vore gekom het. Dit volg nadat beide die toegangspad na die Heilbron-vullisterrein en die pad na die rioolsuiweringsaanleg gesluit is — met ingrypende gevolge vir basiese dienslewering.

Die ou toegangspad na die vullisterrein is glo onwettig verklaar en gevolglik gesluit. Die nuwe toegangspad is egter só swak dat dit in die reënseisoen glad nie bruikbaar is nie. Daarby is die pad na die rioolaanleg eweneens gesluit omdat dit glo onwettig is. Hierdie situasie het tot ’n krisis gelei: die munisipale riooltenkervragmotor kan nie die aanleg bereik nie, en stort sy vrag nou in ’n oop put binne die vullisterrein. Dit veroorsaak ’n stank wat reeds oor groot dele van Heilbron versprei.

AfriForum beskryf hierdie stand van sake as ’n growwe versuim om die gemeenskap teen omgewings- en gesondheidsgevare te beskerm. Die burgerregteorganisasie wys daarop dat die huidige praktyke onwettig is en ’n direkte skending van verskeie wetgewing behels, insluitend die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Wet 107 van 1998), die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998), die Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalwet (Wet 59 van 2008) , en die Grondwet wat elke inwoner se reg op ’n gesonde omgewing waarborg.

“Die stort van rou riool in ’n oop put is niks minder as ’n omgewingsmisdaad nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier. “Dit hou ’n ernstige risiko vir grondwater, vir inwoners se gesondheid en vir die breër omgewing in. Hierdie is meer as ’n diensleweringsprobleem, dit is ’n noodtoestand.”

AfriForum het die munisipaliteit versoek om binne sewe werksdae skriftelik te bevestig:

  • wat die wettige status van die geslote toegangspaaie is;
  • waarom hierdie paaie gesluit is sonder die beskikbaarheid van ’n bruikbare alternatiewe roete;
  • watter onmiddellike stappe gedoen word om die onwettige storting van riool te staak; en
  • watter herstel- en remediëringsplan ingestel gaan word om behoorlike toegang en dienslewering te herstel.

Pretorius benadruk dat AfriForum verdere stappe sal doen indien die munisipaliteit nie dringend reageer nie. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het ook afskrifte van die brief ontvang.

“Die gemeenskap van Heilbron leef nou met ’n stank, ’n gesondheidsgevaar en ’n grondwetlike skending wat maklik voorkombaar was. AfriForum sal ter wille van die gemeenskap, regsaksie neem indien daar nie ingrypend opgetree word nie,” sluit Pretorius af.

Om by die AfriForum-tak in Heilbron aan te sluit, kontak vir Paul Bergh by 081 354 3073.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf