|

AfriForum eis dat munisipale amptenare persoonlik verantwoordelik gehou word ná OG ineenstorting van waterdienste bevestig

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum eis dat munisipale amptenare persoonlik verantwoordelik gehou word vir die ineenstorting van waterdienste wat gister in ’n verdoemende voorlegging van die ouditeur-generaal (OG) bevestig is. Dié eis vorm deel van die burgerregteorganisasie se vyfpuntplan vir die herstel van waterdienste in die land.

Die OG se voorlegging wat gister (2 Desember) aan die parlementêre portefeulje komitee vir Water en Sanitasie voorgehou is, bevestig dat Suid-Afrika se waterkrisis nie veroorsaak word deur klimaatsverandering of lae reënval nie, maar deur die sistemiese verval van die watervoorsienningstelsel in die land.

Die verslag toon dat hoewel verskeie entiteite, insluitende die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die sewe waterrade ongekwalifiseerde oudits gekry het vir die 2023/2024 finansiële jaar, die werklike krisis ten opsigte van watervoorsiening gesetel is by munisipaliteite waar wesenlike nienakoming by 83% van waterdienste-owerhede (WDO’s) in die ouditmening geïdentifiseer is. Meer as die helfte, oftewel 75, van die 135 WDO’s het boonop gekwalifiseerde, ongunstige of weerhouding van ouditmenings ontvang.

Daarbenewens het die OG bevind dat wesenlike onreëlmatighede tot ’n totale finansiële verlies van R1,76 miljard by DWS en die waterhandelentiteit (R443,58 miljoen), die Umngeni-uThukela-waterraad (R145,25 miljoen) en WDO’s (R1,17 miljard) gelei het.

Volgens Lambert de Klerk, Omgewingsakebestuurder by AfriForum, wys die OG se bevindinge op veel meer as swak prestasie: “Dit is ’n regeringsramp wat elke huishouding in die land raak. Die OG het nou dit bevestig wat AfriForum al meer as ’n dekade lank oor waarsku, naamlik dat munisipaliteite die grootste enkele aanvoerder van die waterkrisis is. Die land se water raak nie minder nie – plaaslike regerings slaag eenvoudig nie daarin om dit te bestuur, te behandel en te lewer nie,” gaan De Klerk voort.

Kwessies soos 59 munisipaliteite se spandering van R2,32 miljard aan watertenkwaens in 2023/2024, waarvan R419 miljoen wat as onreëlmatige uitgawes geïdentifiseer is, is volgens De Klerk veral kommerwekkend. “AfriForum het al telkens gewys op korrupsie in die gebruik van watertenkwaens, die opkoms van die sogenaamde ‘watermafias’ en die sabotasie van waterinfrastruktuur met die doel om selfs meer wins uit watertenkwakontrakte los te slaan, en die bevindinge van die OG se voorlegging bevestig dié toenemende krisis. Munisipaliteite beloon letterlik mislukking. In plaas daarvan om lekkasies te herstel of waterstelsels in stand te hou, kanaliseer hulle miljarde in tenkwaskemas wat die deur oopmaak vir politieke patronaatskap, intimidasie en kriminaliteit,” sê De Klerk.

Die OG-verslag sit onder meer ook die volgende skokfeite uiteen:

  • Meer as ’n kwart (26%) van WDO’s – dus munisipaliteite wat ingevolge die Wet op Waterdienste verantwoordelik is vir die lewering van toegang tot water – beskik nie oor ’n waterdienste-ontwikkelingsplan (WDOP) soos wat die wet vereis nie, en 6% van dié owerhede het hul WDOP minstens vyf jaar laas hersien.
  • Ouditbevindings is in 82% van infrastruktuurprojekte aangeteken, terwyl 56% van infrastruktuurprojekte teen ’n gemiddeld van 32 maande vertraag is. Die langste projekvertragings is in die Noord-Kaap, Limpopo en Mpumalanga aangemeld waar vertragings van onderskeidelik 49, 42 en 40 maande aangeteken is.
  • Spandering van slegs 3% van die waarde van bates – teenoor die maatstaf van 8% – is aan onderhoud aangemeld.
  • ’n Totaal van 30 WDO’s, waarvan 9 in die Noord-Kaap geleë is, het geen instandhoudingsplanne vir waterinfrastruktuur nie.
  • DWS het slegs 39% van beplande instandhouding van waterinfrastruktuur (insluitende damme, kanale en pompstasies) in 2023/2024 voltooi.
  • Waterverliese ter waarde van R14,89 miljard is hoofsaaklik weens lekkasies by WDO’s aangemeld.

“Die probleme wat by waterdienste-owerhede aangeteken is, dui nie op nietige of onafwendbare foute en ongelukke nie. Deur beskikbare fondse na ander projekte te herlei, onderhoud af te skeep en ongekwalifiseerde personeel in kritieke poste aan te stel, is munisipaliteite ten volle verantwoordelik vir die ernstige verval van waterinfrastruktuur,” verduidelik De Klerk.

In die lig van die OG se bevindinge stel AfriForum ’n vyfpuntplan voor vir die herstel van die watervoorsieningskrisis wat die land in die gesig staar:

  1. Hou munisipale amptenare persoonlik aanspreeklik

AfriForum dring – ingevolge artikel 34 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA), artikel 63 van die Wet op Waterdienste en die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA) – daarop aan dat munisipale amptenare persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir mislukkings wat lei tot besoedeling, finansiële verliese en gesondheidsrisiko’s.

  • Provinsiale en nasionale ingryping

Die minister van Water en Sanitasie moet die hulpmiddels, wat kragtens artikels 62 en 63 van die Waterdienstewet beskikbaar is, inspan in gevalle waar munisipaliteite hul plig versaak en alternatiewe waterdiensverskaffers aanstel om die spesifieke funksies oor te neem.

  • Strafregtelike vervolging

Munisipale leiers wat verantwoordelik is vir voortdurende afvalwaterbesoedeling, waterbesoedeling en opsetlike versuim om infrastruktuur te onderhou, moet strafregtelik aangekla word.

  • Prioritiseer herstelwerk om watertenks te vervang

Die gebruik wat watertenkwaens moet slegs as ’n noodmaatreël ingespan word, nie as ’n inkomstebron vir kontrakteurs met politieke bande nie. Herstelwerk van waterinfrastruktuur moet eerder geprioritiseer word om die vraag na watertenkwaens te verminder.

  • Implementeer ’n nasionale omkeerstrategie vir instandhouding  

AfriForum dring laastens daarop aan dat ’n omkeerstrategie met die fokus op instandhouding op ’n nasionale vlak geïmplementeer moet word. Daardeur moet munisipaliteite verplig word om:

  • ’n volledige assessering te doen om die toestand van bates te bepaal;
    • behoorlike instandhouding- en opknappingsplanne vir waterinfrastruktuur op te stel en te implementeer; en
    • ’n waarde van minstens 8% van die waarde van bates te allokeer vir instandhouding.

As gemeenskapsbou-organisasie gaan AfriForum intussen voort om op grondvlak te veg vir die lewering van skoon drinkwater en die storting van voldoende behandelde rioolwater. “Deur projekte soos ons jaarlikse onafhanklike watergehalte-toetsing, die blootlê van wanpraktyke in die watertenkbedryf, ons steun aan gemeenskappe met die beskikbaarstelling van alternatiewe waterbronne en voorsiening van noodwater, die herstel van waterlekkasies en druk op die regering om hul Blou- en Groendruppelprogramme sonder politieke inmenging te implementeer maak AfriForum reeds ’n kritieke bydrae. Ons sal egter ons pogings moet verskerp om die toenemende probleme wat veral weens munisipaliteite se verval opduik, die hoof te bied,” sê De Klerk.

“Die land se burgers ly omdat munisipaliteite weier om hul werk te doen. Die OG se verslag is ’n finale waarskuwing: As niemand verantwoordelik gehou word nie, sal ’n volskaalse ineenstorting van waterdienste volg. AfriForum sal nie toelaat dat dit gebeur nie,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik