|

Tswaing-munisipaliteit se vullistrok weer op die pad ná AfriForum ingryp

Danksy die AfriForum-tak in Sannieshof is die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste uiteindelik weer op dreef. Dit volg nadat die munisipaliteit se vullisverwyderingsvragmotor vir twee weke buite werking was weens verouderde bande. Luidens die munisipale bestuurder het die munisipaliteit nie die fondse om die vragmotor se bande te laat herstel nie.

Die plaaslike AfriForum-tak het egter self ingegryp en einde September die bande laat afhaal om te herstel. Twee van die bande kon herstel word, terwyl twee bande vervang moes word. Die koste daarvan het meer as R7 000 beloop. Vullisverwyderingsdienste het nog dieselfde dag hervat.

“Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van waarvoor AfriForum se strukture staan. Die tak kon nie meer toekyk na hoe die munisipaliteit nie sy pligte nakom nie en het self ingespring om te verseker dat dienste gelewer word. Intussen sukkel AfriForum al vir meer as ’n jaar om ’n samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan maar sodra die druk te veel raak, is AfriForum goed genoeg om te help. Te danke aan die Sannieshof-tak, kan vullisverwydering in Sannieshof en Ottosdal nou weer voortgaan soos normaal,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Sannieshof-tak is onlangs ook geherorganiseer en beplan om nog verskeie projekte voor die einde van die jaar aan te pak. 

Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf