AfriForum werk hard om ’n skoon en veilige omgewing in Vryburg te skep
Die AfriForum-tak in Vryburg is volstoom besig om te verseker dat dié dorp ’n skoon en netjiese omgewing vir almal is. Die tak gaan steeds voort met sy skoonmaakprojekte om die dorp op te knap. Gedurende September het die tak die Konsentrasiekamp-begraafplaas se gras gesny en vullis daar verwyder. AfriForum is alreeds vir vier jaar verantwoordelik vir die instandhouding van die park waarin dié begraafplaas geleë is en kan met trots sê dat inwoners en besoekers altyd die park in ’n goeie toestand sal vind.
Verder gedurende die maand het die plaaslike AfriForum-buurtspan ook verseker dat daar nie wegkruipplek is vir misdadigers in Wyk 7 van die dorp nie. Die buurtspan het takke afgesny waar misdadigers moontlik kan wegkruip, asook takke wat motoriste se visie belemmer het.
Die AfriForum-buurtwag in Vryburg het ook deurlopend patrollies in die dorp gery en met hoë sigbaarheid verseker dat misdadigers twee keer dink voordat hulle ’n misdaad pleeg.
“Die AfriForum-tak in Vryburg het die verantwoordelikheid op hulself geneem om te verseker dat Vryburg skoon en netjies gehou word. Besoekers aan die dorp moet weet dat AfriForum in selfdoenaksies glo. Die tak se buurtwag ry elke aand patrollies om veiligheid in die gemeenskap op te skerp. Sonder gemeenskappe wat saamstaan en saamwerk gaan ons nie die geveg teen munisipale verval en misdaad wen nie, daarom is dit belangrik dat gemeenskappe hande moet vat om saam probleme op te los,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum se Vryburg-tak gaan voort tot die einde van die jaar om hierdie tipe projekte aan te pak en wil graag die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak. Jy kan help om jóú omgewing te verbeter en beveilig: Klik hier vir meer inligting.