NVG se besluit om Mbalula nie vir korrupsie te vervolg nie, is irrasioneel
Ná ’n omvattende studie van die saak teen ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot die gevolgtrekking gekom dat die versuim om hom te vervolg óf ’n geval van selektiewe vervolging óf algehele onbevoegdheid is. Dít is een van die voorleggings wat die eenheid aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, adv. Shamila Batohi, gemaak het, waarin aangevoer word dat daar, ten spyte van tekortkominge in die ondersoek, wel voldoende bewyse is om Mbalula, en moontlik sy beweerde weldoeners, van korrupsie en geldwassery aan te kla.
Die saak hou verband met Mbalula se vakansie van R680 000 na Dubai in 2016, wat gedeeltelik betaal is deur Yusuf Dockrat, ’n direkteur van Sedgars Sport, wat destyds ’n verskaffer aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) was. Mbalula en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se handelinge met die maatskappy dateer terug na sy eerste jaar as die minister van Sport, Kuns en Kultuur, toe Sedgars die 2011 SA Sporttoekennings geborg het.
Mbalula en Dockrat het enige wanoptrede ontken en gesê die R300 000 wat gebruik is om Mbalula se skuld by die reisagentskap te vereffen, was ’n “lening”. Dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie die bron van die R380 000 kontant wat gebruik is om die res van die skuld te vereffen, behoorlik ondersoek het nie. Die bewyse in die saak toon dat kontant deur ’n sportfederasiebaas hanteer is, en dat fondse deur ’n Adjunk-Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging se eggenoot, wat ’n sakeman is, aan Mbalula oorgeplaas is.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die vertoë is omvattend. “Ons vertoë is gebaseer op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se gebrek aan begrip van die elemente van korrupsie, wat lei tot die gevolgtrekking dat die besluitnemer te doen gehad het met óf selektiewe vervolging óf volslae onbevoegdheid deur die NVG en/of die SAPD om die beweerde misdaad te ondersoek. Die aspekte van die ondersoek wat nie ondersoek is nie, is opvallend, en enige toegewyde en bekwame ondersoeker of aanklaer kan nie die betekenisvolheid daarvan oor die hoof sien nie,” sê Nel.
’n Gedeelte van die vertoë hou verband met die staat se onverklaarbare aanvaarding van Mbalula se verweer dat die fondse wat hy van die Dockrat ontvang het, slegs ’n “lening” was. ’n Lening val vierkantig binne die definisie van ’n beloning onder die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite (12 van 2004) (PRECCA).
Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê Mbalula het eers die “lening” terugbetaal nadat die media vrae begin vra het oor die reis en die befondsing daarvan. Die bron van die res van die fondse is nie behoorlik ondersoek nie. “Die dossier bevat bewyse dat Tsholofelo Lejaka, die hoof van Boks Suid-Afrika, R150 000 kontant per hand aan die reisagentskap afgelewer het om Mbalula se skuld te vereffen, terwyl Lejaka se kantoorsekretaris op sy bevel twee kontantdeposito’s van R75 000 in die agentskap se rekening gemaak het.”
“Die oorsprong van die R300 000 kontant is nie ondersoek nie, maar die bewyse dui daarop dat dit nie van Mbalula afkomstig is nie. Die oorblywende skuld is met ’n kontantdeposito by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe se FNB-tak betaal. Die bron van hierdie fondse is ook nie ondersoek nie,” sê Bateman.
Mbalula het onlangs afgevaardigdes by ’n ANC-jeugliga-geleentheid oor oneerlike politici, wat hulself aan die diefstal skuldig maak, toegespreek. “Die dae is verby toe ’n kameraad van korrupsie beskuldig is, en ons saam met hom of haar op pad hof toe gesing het. Die ANC het besluit om teen korrupsie te veg,” het Mbalula gesê.
Bateman sê: “As die staat sy werk doen en Mbalula sonder vrees of vooroordeel vervolg, kan Mbalula homself bevind waar hy alleen hof toe moet stap.”