AfriForum moedig publiek aan om langer tyd vir kommentaar op “Bela-regulasies” te benut
AfriForum het die tweede verlenging van die tydperk vir openbare kommentaar op die sogenaamde Bela-regulasies, wat vandag in die Staatskoerant aangekondig, verwelkom. In Augustus vanjaar is hierdie konsepregulasies vir die toepassing van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) met betrekking tot toelating tot en kapasiteit van skole vir openbare kommentaar gepubliseer. Aanvanklik sou die sluitingsdatum 5 September 2025 wees, maar dit is nou tot 5 Desember verleng.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is AfriForum se kommentaar reeds ingedien, maar dié organisasie beskou dit steeds as positief dat die publiek nou nog meer tyd het om weldeurdagte insette oor die regulasies te lewer. “Beide stelle regulasies sal ’n betekenisvolle invloed op die aard van openbare skole en die beskikbaarstelling van hoëgehalte onderrig hê, daarom is dit nodig dat soveel instellings, organisasies en individue as moontlik kommentaar daarop indien.”
AfriForum se kommentaar fokus veral op onduidelikhede en weersprekings in die regulasies, wat later dalk tot dispute of selfs regsaksies mag lei as dit nie beter geformuleer word nie. “Veral oor sensitiewe kwessies soos voedingsones en die rol van taalbeleide in toelatingsvereistes moet daar geen onduidelikheid wees nie,” beklemtoon sy.
Enigeen wat ook teen 5 Desember 2025 insette wil lewer, kan die nodige inligting en adresse vir indiening in die Staatskoerant van 3 Oktober 2025 (volume 724, nommer 53477 vind, of AfriForum vir meer inligting by onderwys@afriforum.co.za kontak.