AfriForum se Kroondal-plaaswag vier September se veiligheidsuksesse
AfriForum se Kroondal-plaaswag, in samewerking met lede van Ratel-veiligheidsdienste, het gedurende September verskeie suksesvolle aksies in die Kroondal-omgewing van Rustenburg en omliggende gebiede uitgevoer om misdaad te bekamp en gemeenskappe veiliger te maak. Hierdie optredes het gelei tot gesteelde items wat teruggevind is, die opsporing van ’n gesteelde voertuig en die voorkoming van verdere misdaad.
Die hoogtepunt van die maand was op 23 September toe die plaaswag en Ratel na ’n huisbraak op die R24 ontbied is. Verskeie items is gesteel, maar later in ’n veld opgespoor. In ’n ander voorval op dieselfde dag is inligting oor ’n gesteelde voertuig op ’n WhatsApp-groep deurgegee, asook die GPS-koördinate van die gesteelde voertuig. AfriForum se buurtwagleier het daarop gereageer en die voertuig verlate op die Dinie Estates-pad gevind en die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontbied, wat die voorval verder hanteer het.
Vroeër die maand (op 3 September) is lede van die plaaswag na ’n huisbraak in Modderfontein ontbied waar hulle die verdagtes se spoor gevolg en daarin geslaag het om van die gesteelde items terug te vind. Later die maand – tydens patrollies op 22 September – het buurtwaglede verdagte persone in ’n dig beboste veld opgemerk en ná deeglike observasie op verskeie goedere, wat vermoedelik gesteel is, beslag gelê. Die span het die spoor verder geneem en op bykomende vermeende gesteelde items in die veld afgekom. Die verdagtes was skoonveld.
“Ons is ongelooflik trots op ons lede wat met vasberadenheid en toewyding gewerk het om misdaad hok te slaan. Hierdie suksesse wys dat gemeenskapsveiligheid werklik moontlik is wanneer ons saamspan,” sê Chris Lombard, leier van AfriForum se Kroondal-plaaswag.
“Deur deel te word van die buurtwag skep jy nie net ’n veiliger omgewing vir jouself en jou gesin nie, maar jy dra ook by tot die groter stryd teen misdaad in ons gemeenskappe. Dit is daarom belangrik om deel te word van ’n struktuur wat werk en ons moedig elke inwoner aan om deel te word van hierdie struktuur,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico.
AfriForum nooi alle inwoners van Kroondal en omliggende gebiede uit om betrokke te raak. Kontak Chris Lombard by 083 443 9674 of besoek www.afriforum.co.za vir meer inligting oor lidmaatskap en projekte. Saam is ons sterker – saam dien ons die gemeenskap!

