|

Emfuleni-munisipaliteit se vulliskrisis laat onwettige storting hoogty vier

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se versuim om nuwe vullisterreine in Vanderbijlpark en Vereeniging oop te maak nadat beide dié terreine die einde van hul leeftyd bereik het, lei nou tot ernstige onwettige storting in die gebiede. AfriForum se jongste vullisterreinoudit het aan die lig gebring dat inwoners sowat 80 km moet aflê om van hul vullis ontslae te raak. Gevolglik word al hoe meer onwettige stortingsterreine in die gebied opgerig, wat ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou.

AfriForum het reeds aan die Emfuleni-munisipaliteit voorgestel om oorlaaistasies in Vanderbijlpark en Vereeniging op die been te bring om die druk op inwoners en die omgewing te verlig. Tot dusver is daar egter geen daadwerklike optrede geneem nie.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek, sê dit is teleurstellend dat die munisipaliteit nie die probleem ernstig opneem nie. “Die gemeenskap ly onder die gevolge van swak dienslewering, terwyl die munisipaliteit bloot toekyk. Ons kan nie toelaat dat inwoners in só ’n onhigiëniese en gevaarlike omgewing leef nie.”

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die Emfuleni-munisipaliteit om dringend volhoubare oplossings te implementeer. Sou daar nie daadwerklike stappe gedoen word nie, sal AfriForum regstappe oorweeg om gemeenskappe se reg op ’n skoon en veilige leefomgewing te beskerm.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf