|

Skuldigbevinding in Malema-vuurwapensaak ’n oorwinning vir aanspreeklikheid en oppergesag van die reg

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)


AfriForum verwelkom die uitspraak wat pas in die Landdroshof in Oos-Londen gelewer is waarin Julius Malema, leier van die EFF, skuldig bevind is op vyf aanklagtes waaronder die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare gebied sonder genoegsame rede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Dié skuldigbevinding volg op die strafregtelike klagtes wat AfriForum in Augustus 2018 teen Malema aanhangig gemaak het nadat hy verskeie skote met ’n vuurwapen afgevuur het tydens die viering van die EFF se vyfde verjaarsdag wat op 28 Julie 2018 buite Oos-Londen by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane gehou is.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, het geregtigheid nou uiteindelik – ten spyte van jare se vertragings en onreëlmatighede in dié saak – geskied. “Die getuienis het oorweldigend bewys dat Malema verskeie ernstige oortredings ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens begaan het, en die uitspraak bevestig dat diegene wat dink dat hulle onaantasbaar is, uiteindelik verantwoording sal moet doen, al vat dit ook hoe lank,” verduidelik Broodryk.

Die burgerregteorganisasie het ’n kritieke rol gespeel om toe te sien dat vervolging geskied en sonder die organisasie se betrokkenheid sou vervolging waarskynlik nooit plaasgevind het nie.

AfriForum beskou ook dié uitspraak as ’n reuseoorwinning in die organisasie se stryd om te verseker dat niemand bo die reg verhewe is nie.

“AfriForum sal voortgaan om toe te sien dat geregtigheid geskied waar individue met politiese bande betrokke is, net soos in die geval van enige ander burger,” sluit Broodryk af.

Vonnisoplegging sal op 23 Januarie 2026 plaasvind. 

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik