AfriForum lei instrukteurs in die Oos-Kaap op
AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope twee weke verskeie veiligheidskursusse vir buurtwaglede oor die Oos-Kaap heen aangebied. Tydens die opleiding is lede as Vrywillige Opleidings Korps-instrukteurs (VOLK) en Vrywillige Opleidings Korps-skietinstrukteurs (VOLKSKIET) gekwalifiseer, terwyl hulle ook ander operasionele vaardighede aangeleer het. Die week is afgesluit met opleiding deur AfriForum se gespesialiseerde reaksie-eenheid, bekend as die protospan, waartydens 21 lede opleiding ontvang het. Alle opleiding het buite Uitenhage by Rangers Outdoors plaasgevind en is deur AfriForum se Uitenhage-tak gefasiliteer.
Die nuut-gekwalifiseerde instrukteurs is almal aktiewe lede van verskeie AfriForum-buurt- en plaaswagte van Uitenhage, Gqeberha, Jeffreysbaai, Oos-Londen en Cradock.
Die VOLK-instrukteurs se opleiding was daarop gemik om lede toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om vlak 1 veiligheidsmodules aan buurtwag- en gemeenskapslede aan te bied. Vrae soos “Ek het iemand geskiet! Wat nou?”, “Hoe om te verhoed dat ek ’n slagoffer van ’n plaasaanval word?” en “Ontvoering – tipes, tekens en voorkomingstrategieë” is behandel. Die doel van VOLKSKIET-instrukteurs is om buurtwag- en gemeenskapslede op te lei oor wat die wet oor vuurwapens, asook die veilige hantering van jou vuurwapen, sê.
Protospanopleiding is uitsluitlik vir buurtwag-reaksielede en tydens hierdie intensiewe kursusse word daar gefokus op taktiese vuurwapenhantering, bloedingbeheer en selfverdediging. Dit stel vrywilligers in staat om vinnig en doeltreffend op hoë-risiko-situasies te reageer.
Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, sê dat hierdie inisiatief deel is van AfriForum se breër doelwit om plaaslike veiligheidstrukture te bemagtig deur gespesialiseerde opleiding om gemeenskapsgedrewe kapasiteit uit te brei. “Ons leef in ’n land waar misdaad van die hoogste ter wêreld is, terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens met ’n jaarliks krimpende begroting oor die weg moet kom. Die gevolg is dat ons self by die veiligheid van ons buurte, dorpe en gemeenskappe moet ingryp. Die beste manier om dit te doen, is om by jou plaaslike buurtwag betrokke te raak en aksie te neem.”
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.