Water
|

AfriForum bied om hulp ná jarelange waterkrisis in Lichtenburg, Coligny voortduur

AfriForum het die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit in Mafikeng oor die voortgesette waterkrisis in Lichtenburg en Coligny genader en hulp aangebied om eindelik verligting vir dié gebiede te bring. Sommige inwoners sit sedert 2022 sporadies sonder water en in 2025 het hierdie situasie onveranderd gebly. Die burgerregteorganisasie meen dat aangesien die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, wat verlede week onder administrasie geplaas is, nie daartoe in staat is om hierdie jarelange kwessie die hoof te bied nie, die distriksmunisipaliteit nou tot die saak moet toetree en saam met AfriForum werk sodat inwoners se grondwetlike reg om toegang tot water te hê, gewaarborg word.

AfriForum voer aan dat die distriksmunisipaliteit ’n memorandum van verstandhouding moet onderteken wat die burgerregteorganisasie in staat sal stel om die waterprobleme te ondersoek en aan planne te bedink om die krisis die hoof te bied. AfriForum wys in sy skrywe daarop dat talle woonbuurte in Lichtenburg al weke lank sonder water is, terwyl inwoners van Coligny reeds jare lank geen munisipale watervoorsiening ontvang nie. Volgens AfriForum is dit onaanvaarbaar dat gemeenskappe hulself moet red deur water ten duurste te laat aanry, private boorgate te laat sink of ver afstande af te lê.

“Die gemeenskappe op hierdie dorpe kan eenvoudig nie langer wag nie. Elke dag sonder water is ’n dag van onnodige en ongrondwetlike swaarkry. AfriForum is daartoe verbind om saam met die distriksmunisipaliteit aan oplossings te werk, maar indien daar geen terugvoer ontvang word nie, sal AfriForum genoodsaak word om verdere stappe te oorweeg, insluitend klagtes by die Menseregtekommissie in te dien,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum het die distriksmunisipaliteit aan die wetlike bepalings herinner, wat water as ’n grondwetlike reg waarborg, asook die basiese standaard dat geen persoon sonder minstens 25 liter drinkwater per dag vir langer as sewe dae mag wees nie. Die organisasie eis dat ’n omvattende verslag oor die omvang van die probleem, asook ’n duidelike aksieplan saamgestel word wat tydlyne vir herstelwerk en alternatiewe waterpunte bied en verantwoordelike amptenare se kontakbesonderhede insluit.

AfriForum glo dat hierdie krisis oorkom kan word as burgerlike rolspelers en regeringsfere saamstaan. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om druk op die distriksmunisipaliteit te plaas en terselfdertyd hande te vat met owerhede om oplossings te vind. Lichtenburg se inwoners kan verseker wees dat AfriForum aan hul sy staan en alles in sy vermoë doen om die basiese reg op water te herstel en ’n toekoms te bou waar elke gesin weer op volhoubare watervoorsiening kan staatmaak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf