|

AfriForum help brand by Bloemfontein se Botaniese Tuine blus

AfriForum se Bloemfontein-tak het op 31 Augustus sy deel gedoen om die natuurskoon van die Rosestad te beskerm toe sy brandspanne gehelp het om ’n brand in die Botaniese Tuine te blus. Die brand, wat vroeër die dag onder beheer gebring is, het weens sterk wind en ’n hoë brandgevaarindeks later weer opgevlam en versprei. Dit was toe dat AfriForum se brandspanne aan die werk gespring het.

Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se brandweer was reeds op die toneel besig om die brand te blus toe AfriForum se suidelike brandspan, op versoek van AfriForum Bloemfontein-Noord Landelik se brandspan, ook geaktiveer is. Tien vrywilligers van AfriForum se suidelike span, insluitend lede van die AfriForum 911-reaksie-eenheid, het onmiddellik gereageer.

Die terrein was uitdagend en die vrywilligers moes te voet, met handgereedskap bedoel vir brandbestryding, die brand in die koppies pak. Die span is verdeel in verskeie eenhede, elk met hul eie leiers, om die brand vanuit verskillende hoeke te tem. Ná ure se harde werk, noue samewerking met die Mangaung-brandweer en die Botaniese Tuine se eie span, is die brand uiteindelik kort ná middernag onder beheer gebring.

“AfriForum is ongelooflik trots op sy brandspanne wat hul tyd en energie opoffer het om die gemeenskap en ons natuurlike erfenis te beskerm,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein. “Die goeie koördinering, sterk radiokommunikasie en regte toerusting het verseker dat die brandspanne vinnig en doeltreffend kon reageer. Hierdie spanne se bereidwilligheid om in te spring wanneer die gemeenskap hulle nodig het, bewys hoe waardevol samewerking is.”

AfriForum bedank die Mangaung-brandweer en die Botaniese Tuine se personeel vir die samewerking en samehorigheid tydens hierdie voorval. Dit is juis hierdie vennootskappe wat verseker dat brande vinniger geblus en groter skade voorkom word.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf