|

AfriForum soek antwoorde oor Kannemeyer-video by Stellenbosch-munisipaliteit

Klankgreep: Marique van Dalen (Afrikaans)
Klankgreep: Marique van Dalen (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum soek antwoorde van die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit oor die inhoud van ’n video wat vandeesweek wyd op sosiale media versprei is. In dié video het die menslikehulpbronbestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit, Alexander Kannemeyer, na bewering gesê dat wit werknemers se lewens “moeilik” gemaak moet word totdat hulle bedank en dan met die munisipaliteit se voorkeurkandidaat vervang kan word.

AfriForum beklemtoon dat dienslewering aan die gemeenskap nie tweede viool mag speel teenoor politiekery en rasgedrewe agendas nie. As ’n openbare instelling moet die Stellenbosch-munisipaliteit dienslewering, integriteit en gelykheid vooropstel.

In ’n skrywe aan die burgemeester, Jeremy Fasser, en die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, vra die organisasie onder meer of Mettler bewus was van Kannemeyer se uitlatings en diskriminerende praktyke. Volgens AfriForum is Mettler ingevolge artikel 55 van die Wet op Munisipale Stelsels (32 van 2000) verplig om te verseker dat munisipale administrasie voldoen aan die toepaslike wetgewing.

Indien Mettler wel bewus was van hierdie uitlatings versoek AfriForum inligting oor die stappe wat gedoen is om in te gryp en verdere skade te voorkom. Sou Mettler hiervan geweet het en nie toepaslik opgetree het nie het sy haar plig versaak en haar munisipaliteit blootgestel aan verdere regstappe. AfriForum wil dus weet of hierdie optrede gerapporteer is, hoe daarop gereageer is, en watter maatreëls in plek gestel gaan word om hierdie tipe optrede in die toekoms te verhoed.

AfriForum het intussen verneem dat die munisipaliteit onderneem het om ’n interne ondersoek in te stel. Hoewel AfriForum hierdie besluit verwelkom bly daar kommer dat hierdie ondersoek nie met die nodige erns hanteer sal word nie. Juis daarom versoek AfriForum ook dat die munisipaliteit ’n verslag aan die publiek sal lewer na afloop van die ondersoek. Dié verslag behoort die stappe uiteen te sit wat gedoen gaan word soos dit binne die munisipaliteit se grondwetlike en statutêre verpligtinge val.  

“In die lig van die huidige gebeure is daar voldoende rede om te twyfel dat die munisipaliteit die aangeleentheid met die nodige erns sal hanteer,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland. “Die uitlatings is vermoedelik reeds in 2023 gemaak, maar die vraag bly of die munisipaliteit enigsins sou optree indien die uitlatings nie op sosiale media uitgelek het nie.”

AfriForum sal voortgaan om die situasie fyn dop te hou en verwag van die munisipaliteit om dit met die nodige erns en dringendheid te hanteer. Die munisipaliteit het vyf werksdae om op AfriForum se skrywe te reageer.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik