AfriForum eis dringende aksie van J.B. Marks-munisipaliteit oor aanhoudende rioolbesoedeling in Mooirivier
Die AfriForum-tak in Potchefstroom doen ’n beroep op die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit om dringend op te tree teen die aanhoudende en erge rioolbesoedeling wat op verskeie plekke by die Mooirivier invloei. Reg agter MooiRivier Mall is ’n rioolverstopping wat veroorsaak dat rou riool direk by die Mooirivier invloei. Die rioolbesoedeling duur al vir meer as ’n jaar en hou ’n ernstige gevaar vir die publiek se gesondheid en die omgewing in.
Ten spyte van vorige regsintervensies oor die besoedeling in Poortjiesdam, wat uiteindelik ook in die Mooirivier beland, insluitend ’n tussentydse bevel van die Hooggeregshof in Mahikeng, het die munisipaliteit versuim om betekenisvolle aksie te neem om die rioolbesoedeling te stop. Hierdie voortgesette nalatigheid oortree verskeie omgewingswette en ondermyn die grondwetlike regte van die inwoners.
“Die situasie is krities en ons kan nie passief bly terwyl onbehandelde riool ons riviere besoedel en ons gemeenskappe in gevaar stel nie. Die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit het sy wettige en morele verpligtinge versuim en ons eis onmiddellike aksie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
In ’n dringende brief wat AfriForum gister aan die J.B. Marks-munisipaliteit geskryf het, eis die organisasie die onmiddellike implementering van noodmaatreëls om alle rioolbesoedeling in die Mooirivier te stop; die openbare bekendmaking van die munisipaliteit se rehabilitasieplan, soos deur die Hooggeregshof beveel; deursigtige verslaggewing oor verbeterings aan infrastruktuur en die toewysing van munisipale begrotings; en samewerking met gemeenskapsorganisasies, insluitend AfriForum, in toekomstige beplannings- en moniteringsprosesse.
Indien daar nie binne 14 dae aan hierdie eise voldoen word nie, sal AfriForum die saak eskaleer na die departement van Water en Sanitasie en die Groen Skerpioene, sowel as die moontlikheid van verdere regsaksie ondersoek.
AfriForum bly toegewyd aan die beskerming van beide die omgewing en die regte van die plaaslike inwoners en sal voortgaan om die J.B. Marks-munisipaliteit aanspreeklik te hou vir sy optrede.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.
