|

AfriForum bemagtig vroue met selfverdedigingsopleiding

AfriForum se Noord van die Berg-tak, in samewerking met AfriForum se Brits-tak, het op Saterdag 23 Augustus opleiding in selfverdediging vir vroue by Aequitas Arms & Accessories buite Pretoria aangebied.

Altesaam 21 vroue het die dag bygewoon, waar hulle intensiewe opleiding in vuurwapenhantering en fisieke selfverdediging ontvang het. Die opleiding is aangebied deur die kundige instrukteurs van Aequitas en lede van die Brits-protospan, onder leiding van hul operasionele leier, Jozua Rossouw, wat ook gehelp het om die dag te organiseer.

Die sessies het die deelnemers praktiese vaardighede geleer en ook selfvertroue en weerbaarheid onder hulle ingeboesem. Selfs die manlike helpers het met ’n paar kneusplekke huis toe gegaan, wat ’n bewys is van die vroue se nuwe vaardighede!

“Ons wil hê vroue in ons gemeenskappe moet oor die nodige kennis en selfvertroue beskik om hulself en hul gesinne te beskerm. Hierdie tipe opleiding is ’n kragtige manier om gemeenskappe veiliger te maak,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

Met inisiatiewe soos hierdie versterk AfriForum sy verbintenis om gemeenskappe toe te rus, selfverdediging te skerp en veiligheid op plaaslike vlak te bevorder.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf