|

Samewerkingsooreenkoms wink tussen AfriForum en Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit

’n Memorandum van verstandhouding wat samewerking en wedersydse steun in die aanpak van uiteenlopende projekte tussen die burgerregteorganisasie AfriForum en die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit sal verseker, is gister tydens ’n suksesvolle vergadering in die vooruitsig gestel. AfriForum beskou dié verwikkeling en die munisipaliteit se optimisme oor beoogde samewerking as ’n kritieke oorwinning in die belang van die inwoners van dié plaaslike munisipaliteit in die suide van Gauteng.

AfriForum het reeds verskeie soortgelyke samewerkingsooreenkomste met munisipaliteite elders in die land gesluit en hou vol dat dié benadering – waarin gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir sekere projekte en munisipale dienste – ’n belangrike rol speel in die realisering van gemeenskapsfederalisme.

Tydens gister se vergadering het AfriForum en verteenwoordigers van die munisipaliteit, waaronder die Emfuleni-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende burgermeester, Tumi Mochawe, aspekte bespreek wat dringende aandag vereis.

Volgens Butch Blignaut, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, is kwessies soos vullisverwydering, die tekort aan toeganklike vullisterreine, padinfrastruktuur, riolering en waterlekkasies enkele sake wat AfriForum ter tafel gelê het. AfriForum beoog om, sodra samewerking geformaliseer is, op veral die instandhouding van water- en rioollyne en paaie te fokus en self die herstel van water- en rioollekkasies sowel as slaggate te hanteer. Daarbenewens word ook reeds beplan aan die oprig van ’n herwinningstasie om die ernstige uitdagings ten opsigte van vullisterreine in dié munisipaliteit te help takel.

Die munisipaliteit het ook reeds die moontlikheid van formele samewerking met AfriForum op sosiale media verwelkom. Luidens ’n sosialemediaplasing wat gister oor die vergadering op die burgemeester se Facebook-blad gemaak is, beskou die munisipaliteit die gesprekke wat tot dusver gevoer is as ’n “positiewe stap in die rigting van vooruitgang”.

“Ons sien uit na die werk wat voorlê en om dit wat ons reeds in die gebied doen, as deel van ’n formele ooreenkoms met die munisipaliteit in die belang van die gemeenskap aan te pak. Die ooreenkoms sal kommunikasiekanale tussen die gemeenskap en die munisipaliteit open en bowenal verbeterde dienslewering tot gevolg hê,” sluit Blignaut af.

AfriForum en die munisipaliteit sal weer op 1 September vergader om die pad vorentoe te bespreek.

Soortgelyke plasings