| |

AfriForum nader hof vir duidelikheid oor Kaapstad se nuwe tariefmodel

AfriForum het Maandag ’n aansoek in die Hooggeregshof in Kaapstad gebring om duidelikheid te kry oor die wettigheid van die Kaapstad-metro se nuwe tariefmodel vir water, sanitasie en elektrisiteit, wat in die 2025/2026-begroting toegepas word. Volgens die organisasie hou die gebruik van eiendomswaardasies as die grondslag van water- en sanitasietariewe, sowel as die herstrukturering van die metro se elektrisiteitstariewe sonder die nodige kostestudie, ’n ernstige nadeel in vir die Moederstad se huiseienaars.

AfriForum erken dat die Kaapstad-metro wêreldklasdienste aan inwoners lewer en dat die metro ook groot deursigtigheid getoon het deur koste­studies volledig beskikbaar te stel.

“Ons betwyfel nie die metro se verbintenis tot goeie dienslewering nie. Dit is belangrik dat munisipale bestuur innoverend dink en nuwe modelle ondersoek. Die huidige model is egter nie in lyn met die wetgewing nie, daarom vra ons dat die hof die wet duidelik interpreteer sodat daar sekerheid is oor die pad vorentoe,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum vra die hof om te verklaar dat die Kaapstad-metro geen ander heffing of gelde aan eiendomswaardasies mag koppel buiten dit wat in die Plaaslike Regering: Wet op Munisipale Eiendomsbelasting voorgeskryf word nie; om te verklaar dat die drie tariewe in stryd is met die Grondwet en die beginsel van legaliteit in soverre dit op eiendomswaardasies gegrond is; en om die verklaring van ongrondwetlikheid op te skort tot 30 Junie 2026, wat die einde van die huidige boekjaar is.

AfriForum beklemtoon dat tariewe redelik en billik moet wees en dat verbruikers ’n regstreekse weerspieëling van die werklike koste van voorsiening moet betaal en nie meer bloot op grond van eiendomswaarde nie. Die organisasie wys daarop dat die nuwe strategie deel is van ’n groter meerjarige plan en dat sommige van die stad se beleidsraamwerke waarskynlik aangepas sal moet word.

“AfriForum sal toesien dat die wet gerespekteer word en dat inwoners in die Kaapstad-metro beskerm word deurdat tariewe regverdig en wetlik bepaal word. Dit gaan vir ons oor regverdigheid, deursigtigheid en die beskerming van belastingbetalers se belange,” sluit Mostert af.

Om betrokke te raak by AfriForum se takke, klik hier: Sluit-aan.afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings