|

Drie maal is skeepswrak, sê AfriForum oor derde powere omgewingsimpakstudie vir myn op Kruger se voorstoep

Klankgreep: Lambert de Klerk
Klankgreep: Lambert de Klerk

Die derde weergawe van ’n omgewingsimpakstudie (OIS) van ’n omstrede aansoek vir ’n mynbouprojek aan die suidelike grens van die Krugerwildtuin is luidens die formele kommentaar wat AfriForum gister daarop ingedien het, net soos die vorige weergawes in alle opsigte gebrekkig. Die organisasie benadruk dat die studie, wat reeds vir ’n derde keer vir openbare kommentaar oopgestel is, nie aan die minimum vereistes van enige toepaslike wetgewing of riglyne voldoen nie en dat die aansoek daarom in sy geheel onttrek moet word.

AfriForum staan intussen gereed om regstappe in te stel indien dié mynbouaansoek vir Tenbosch Mining se voorgestelde steenkoolmyn oorweeg en omgewingsgoedkeuring vir die projek toegestaan word.

Die burgerregteorganisasie het ook tydens die openbare vergadering oor dié weergawe van die OIS wat op 30 Julie in Marlothpark gehou is, sy teenkanting laat hoor en daarop gewys dat die aansoekproses uiters gebrekkig is en verskeie wetlike vereistes nie nagekom is nie. Die nuutste weergawe van die OIS is in Maart vanjaar uitgereik. Dit volg op die ewe gebrekkige weergawes wat in Oktober 2023 en Oktober 2024 oopgestel is vir kommentaar.

AfriForum het in sy kommentaar op die Maart 2025-weergawe van die OIS ook die volgende aspekte gekritiseer:

  • Die nuwe weergawe van die OIS bevat dieselfde foute, leemtes en teenstrydighede as wat in die twee vorige weergawes voorgekom het.
  • Die studie bevat nie enige volledige en vereiste spesialisstudies nie, maar steun merendeels op lessenaar-assesserings  (desktop assessments) wat strydig is met regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 (NEMA) en vereistes van die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE).
  • Nie die omgewingsimpakpraktisyn (EAP) of ’n geregistreerde vakkundige se registrasienommers is in die studie vervat nie en is dit derhalwe nie duidelik of enige van die samestellers as professionele persone geregistreer is nie. Dié weglating is ’n ernstige oortreding van Suid-Afrika se Vereniging van Omgewingskonsultante (Eapasa) se etiese gedragskode.
  • Die verslag weerspreek homself op telkens. In een geval word die voorgestelde myn as ’n ondergrondse myn beskryf hoewel inligting oor die vereiste infrastruktuur vir dergelike bedrywighede verwyder is uit die studie.
  • Die verouderde 2014-OIS-regulasies word telkens aangehaal in plaas van die gewysigde 2017-regulasies. Die verwysing na verouderde regulasies trek die geloofwaardigheid van die studie in geheel in twyfel.

AfriForum hou voorts vol dat die OIS-proses strydig is met verskeie bepalings van NEMA sowel as die 2017-OIS-regulasies. Daarbenewens val die aansoekgebied, luidens die Mpumalanga Vision 2030 Strategic Implementation Framework, buite die provinsie se aangewese fokusgebied vir steenkoolmyne en in ’n streek wat ekonomies afhanklik is van toerisme en landbou – sektore wat direk bedreig sal word deur mynbedrywighede.

Volgens AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, Lambert de Klerk, het die voorgestelde projek se omgewingspraktisyn, Kimopax, ook nie tydens die openbare vergadering antwoorde op belanghebbendes se mees kritieke vrae gebied nie. Die vergadering het duidelik gewys op die ernstige teenkanting wat belanghebbendes, insluitende plaaslike gemeenskapslede, grondeienaars en burgerregteorganisasies, teen die voorgestelde projek het. Dit is egter kommerwekkend dat Kimopax steeds nie belangrike vrae kon beantwoord nie. Hulle kon ook nie bewys lewer dat die DMHE ’n verlenging van die aansoek goedgekeur het soos wat ingevolge regulasies vir ’n OIS vereis word nie. Die OIS verwys boonop na goedkeuring vir die projek wat SANParke kwansuis gegee het, maar daar kon ook nie bewys van dié beweerde goedkeuring gegee word nie.

“Ons het te doen met ’n proses wat al twee keer vantevore aangepak is sonder dat blatante foute wat in die IOS-weergawes voorgekom het, reggestel is of belanghebbendes se kommentaar daarop in ag geneem is. Dit is duidelik dat daar met OIS gepoog word om Tenbosch Mining se aansoek ten alle koste deur te druk sonder om die wetlike vereistes na te kom of die publiek se teenstand in ag te neem. Dié en vorige weergawes van die OIS wat ingedien is, is nie net tegnies en prosedureel gebrekkig nie, maar mislei die publiek én die owerhede.”

De Klerk beklemtoon dat AfriForum nou reeds genoegsame bewyse het om te bevestig dat Tenbosch Mining se aansoek nie op ’n wettige of deursigtige grondslag berus nie. “As hierdie proses goedgekeur word, sal AfriForum regstappe doen om die aansoek te laat onttrek om die gebied se omgewings- en toerismewaarde te beskerm. Die omgewing, plaaslike gemeenskappe en die wildtuin as internasionale baken van bewaring mag nie die prys betaal vir swak beplanning en gebrekkige prosesse nie,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings