AfriForum dien interne appèl in ná SAPD PAIA-aansoek oor privaat veiligheid by polisiestasies ignoreer
AfriForum het vandag ’n interne appèl teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien ná die organisasie se formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) rakende die gebruik van privaat veiligheidsdienste by polisiestasies geïgnoreer is. Die burgerregteorganisasie het reeds in April vanjaar sy PAIA-aansoek aan die SAPD gerig en duidelikheid gevra oor die aantal polisiestasies wat van privaat sekuriteitsmaatskappye se diens gebruik maak om SAPD-persele te beskerm. Dit is nou reeds meer as vier maande later en die polisie swyg steeds.
Hierdie stilswye en skynbaar doelbewuste weerhouding van inligting is volgens AfriForum uiters kommerwekkend. Die organisasie hou vol dat deursigtigheid in die verband ononderhandelbaar is en dat die publiek die reg het om te weet wat die volle omvang van die SAPD se afhanklikheid van privaat sekuriteitsdienste is. Dié inligting is boonop van kritieke belang, veral gegewe die feit dat die regering se voorgestelde wysigings aan regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSiRA) dreig om die einste sektor waarop die SAPD steun, te ontwapen en verswak.
AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, meen dit is belaglik dat die regering regulasies wil stoomroller wat die privaat sekuriteitsbedryf magteloos sal laat, terwyl die SAPD nie eens sy eie geboue sonder die hulp van dié bedryf kan beveilig nie.
“Die weiering om aan ons PAIA-aansoek gehoor te gee wys óf op die SAPD se onbekwaamheid óf is ’n doelbewuste poging om ’n ongemaklike werklikheid te verswyg. Indien die SAPD niks het om weg te steek nie, hoekom ignoreer hulle die versoek om inligting? Wat is dit wat hulle skynbaar so desperaat probeer stilhou vir die publiek?” vra Broodryk.
AfriForum benadruk dat talle kritieke vrae nou, vier maande sedert die oorspronklike aansoek, steeds onbeantwoord gelaat is. By hoeveel polisiestasies is die tekort aan hulpbronne en personeel so groot dat polisiebeamptes nie eens hul eie toegangsbeheer kan toepas nie? Hoeveel belastinggeld word spandeer aan die uitkontraktering van sekuriteitsdienste wat die SAPD veronderstel is om self te lewer? En selfs meer belangrik, hoe kan die regering die aftakeling van die privaat sekuriteitsbedryf regverdig, terwyl dit self so sterk daarop steun?
“Die ignorering van PAIA-aansoeke is nie net onwettig nie, maar ondermyn ook die publiek se vertroue in die SAPD. Dit gaan nie net oor ’n enkele stel inligting wat versoek word nie – dit gaan oor verantwoordbaarheid en deursigtigheid,” sluit Broodryk af.
Broodryk waarsku dat, indien die SAPD nie binne die volgende 30 dae die inligting aan AfriForum voorsien nie, AfriForum die saak na die Inligtingsreguleerder (IR) sal verwys om die polisie te dwing om die inligting beskikbaar te stel.