79-jarige vrou wreed vermoor op Van Wyksdorp-plaas
Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdade hanteer word – AfriForum
AfriForum doen ’n beroep op die nuwe, waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om plaasaanvalle onmiddellik as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer. Dié versoek volg in reaksie op nóg ’n plaasmoord die afgelope naweek waarin die 79-jarige Valery Ezner op ’n plaas sowat 2 km buite Van Wyksdorp in die Wes-Kaap vermoor is.
Die versoek, wat al telkens aan vorige Polisieministers gerig is, is ook weer aan die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) gerig. AfriForum beklemtoon dat vorige ministers nie die erns van plaasmoorde ingesien het nie, maar dat Cachalia die geleentheid het om die wankelende vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kan bevorder indien plaasmoorde as prioriteitsmisdaad geag sal word.
Enkele weke voor die noodlottige aanval het Ezner gekla oor heinings wat op haar plaas afgesny word, diere wat vergiftig word en die voorkoms van onwettige weiding op die plaas. Volgens haar het sy min tot geen hulp van die plaaslike SAPD ontvang nie.
“Hoeveel bejaardes moet in hul huise gemartel en vermoor word voordat die regering erken dat dit nie net ‘gewone misdaad’ is nie? Plaasaanvalle is wreedaardig, weldeurdag en stroop landelike gemeenskappe van ’n gevoel van veiligheid. Daarom eis ons weer dat plaasaanvalle formeel as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer word – net soos transitorooftogte en renosterstropery,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
In ’n formele motivering wat vroeër vanjaar aan genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, voorgelê is, het AfriForum duidelike regs- en strategiese gronde vir hierdie klassifikasie kragtens artikel 17D van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens uiteengesit. Plaasaanvalle voldoen aan én oorskry die kriteria wat tans gebruik word in die definiëring van prioriteitsmisdade. Dié kriteria sluit onder meer in uiters gewelddadige en voorbedagte aanrandings wat dikwels marteling en teregstellings behels; die teiken van kwesbare slagoffers, veral bejaarde boere en werkers, wat in afgeleë gebiede woon; en die gebruik van ’n georganiseerde modus operandi wat ooreenstem met dié wat sindikate gebruik (soos om slagoffers se bewegings dop te hou en om gekoördineerde bewegings en ontsnappingsplanne in te span). Verdere kriteria waaraan plaasaanvalle ook voldoen om as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer te word, is die nasionale ekonomiese en voedselsekerheidsimpak van die misdade, veral aangesien plaasaanvalle produktiewe plase destabiliseer; en die voorkoms van hoë vlakke van openbare vrees, gemeenskapstrauma en politieke aanhitsing.
AfriForum het ook die teenstrydigheid in die staat se reaksie op ander kategorieë van geweldsmisdaad uitgewys.
“As transitorooftogte toegewyde nasionale taakspanne en gespesialiseerde hulpbronne kan regverdig, waarom geniet landelike moorde soos hierdie nie dieselfde aandag nie? Boere is voedselprodusente, werkskeppers en beskermers van ons landelike ekonomie – en dit is in elke burger se belang dat misdaad teen hierdie kritieke sektor met groter erns getakel moet word,” voeg Broodryk by.
As deel van AfriForum se versoek vir die klassifisering van plaasaanvalle as nasionale prioriteitsmisdade, doen die burgerregteorganisasie ook ’n beroep op die onmiddellike vestiging van ’n toegewyde Valke-taakspan vir landelike misdade. Dié taakspan moet bemagtig word met die nodige mandaat en kapasiteit om plaasaanvalle op nasionale vlak te ondersoek. Die span moet voorts ook nou saamwerk met die SAPD se landelike veiligheidseenhede, boerdery-organisasies en gemeenskapsveiligheidsnetwerke om ’n gekoördineerde en doeltreffende reaksie te verseker.
“Om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te klassifiseer, is nie simbolies nie – dis strategies. Dit beteken meer hulpbronne, vinniger reaksietye, beter ondersoeke en behoorlike geregtigheid vir die slagoffers. Valery Ezner se dood moenie net nóg ’n naam wees wat verlore raak op ’n lys van plaasmoordslagoffers nie. Dit moet ’n keerpunt wees,” sluit Broodryk af.
AfriForum bied steeds ondersteuning aan geaffekteerde gemeenskappe en sal hierdie saak se ondersoek noukeurig moniteer om verantwoordbaarheid en geregtigheid te verseker.