|

Winterberg-plaaswag spoor gekaapte vragmotor in ’n japtrap op

Die vinnige optrede van Darius Stumpke, voorsitter van AfriForum se Winterberg-plaaswag in Uitenhage, het daartoe gelei dat ’n gekaapte vragmotor binne ’n halfuur opgespoor is. Stumpke het Sondag, 23 Februarie, omstreeks 15:30 ’n boodskap op sosiale media ontvang dat ’n vragmotor in die area gekaap is.

Volgens dié boodskap was die vragmotor, wat alkoholiese drankies vervoer het, op die R75-pad buite Uitenhage toe die kaping plaasgevind het. Stumpke het onmiddellik ander lede van die Winterberg-plaaswag gemobiliseer om dié roete te fynkam. Die soektog het later uitgebrei om die R335 tussen Uitenhage en Motherwell in te sluit.

Die vragmotor is ’n halfuur later, omstreeks 16:00, verlate gevind tussen die Amanzi-afrit en Motherwell. Die vrag was reeds gebuit. Stumpke het gesorg dat die voertuig en die omgewing veilig is, waarna Viper-veiligheidsdienste en Cartrack die toneel oorgeneem het. Die kapers is ongelukkig nie vasgetrek nie.

“Dit is absoluut wonderlik om te beleef hoe gerat ons plaaswag is dat ons sonder om te wik of te weeg kon mobiliseer en binne slegs 30 minute die vragmotor kon opspoor. Hoewel ons nie die kapers kon aankeer nie, is dit werklik bemoedigend om die toewyding van ons plaaswaglede eerstehands te ervaar en te weet dat ons gemeenskap se veiligheid in bekwame hande is,” sê Stumpke.

Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, word dié provinsie veral deur vragmotorkapings geteister. “Vragmotorkapings kos die Suid-Afrikaanse ekonomie al meer as R3 miljard per jaar. Dit ís nodig dat gemeenskapslede betrokke raak by gemeenskapsveiligheidstrukture in hul omgewings en saam met ander veiligheidsrolspelers te werk om misdaad te bekamp.”

Soortgelyke plasings