Nuuskommentaar: 70 lang dae lê voor vir Malema
Ilze Nieuwoudt
Oor net meer as 70 dae sal Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), se lot in die vuurwapensaak bepaal word wanneer die voorvonnisverrigtinge op 15 April voortgesit word en landdros Twanet Olivier met die vonnisoplegging in die landdroshof in Oos-Londen begin. En terwyl die uurglas vinnig leegloop maak Malema, sy ondersteuners en sy regspan soos ’n span benoude katte ewe benoude spronge om dié leier se misdaad te probeer afwater.
Malema wat in Oktober verlede jaar skuldig bevind is op vyf aanklagtes teen hom – waaronder die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare gebied sonder genoegsame rede en die onwettige besit van ’n vuurwapen – het verlede week weer in die hof verskyn vir die voorvonnisverrigtinge. Die skuldigbevinding volg op ’n voorval in 2018 toe Malema tydens die EFF se vyfde verjaarsdagvieringe ’n aantal skote afgevuur het.
Reeds voor die hofverrigtinge Vrydag afgeskop het, was die manne en vroue in rooi se steun aan hul leier duidelik. ’n See van rooi het by die hof opgedaag – aangery en aangevlieg. Op ’n FlySafair-vlug tussen Johannesburg en Oos-Londen het ’n groep ondersteuners hul medepassasiers warm onder die kraag gelaat en gedurende die vlug luidkeels gesing en dans in die vliegtuig se gang. Die lugredery het intussen bevestig dat daar ondersoek ingestel word na die voorval en voer aan dat indien daar bevind word dat die redery se beleide ten opsigte van veiligheid en respekvolle gedrag teenoor ander passasiers oortree is, verdere stappe gedoen sal word.

Oproerigheid het van die vliegtuig oorgeloop na die hofsaal. Geklee in hemde met die boodskap “Voetsek AfriForum” en soortgelyke luide uitjouery was die boodskap van die EFF-ondersteuners duidelik: die burgerregteorganisasie – die oorspronklike klaer in dié saak – is vir die “vryheidsvegters” ’n reuse steen des aanstoots.
Verrigtinge is ook vertraag omdat daar nie genoeg plek vir al die EFF-ondersteuners binne die hofsaal was nie. AfriForum se twee verteenwoordigers wat die saak bygewoon het, is selfs in ’n stadium toegang tot die hof geweier deur die rooi baret-brigade. Uiteindelik is die saak na ’n groter hoflokaal verskuif.
Voorvonnisverrigtinge het ook opspraak verwek. Die maatskaplike werker Jessie-Ann Thompson wat ter strafversagting vir Malema getuig het, het die EFF-leier se lof besing as ’n toegewyde gesinsman, weldoener en perfeksionis wat gesteld is op orde en dissipline. Sy het aanbeveel dat Malema nie tronkstraf opgelê moet word nie, maar eerder ’n boete moet betaal, verbied moet word om ’n vuurwapenlisensie te kry en ’n geldelike skenking aan Gun Free South Africa moet maak.
Na afloop van die lang dag het Malema oudergewoonte sy ondersteuners buite die hof toegespreek en op X gal gebraak teen al die dorings in sy vlees. Landdros Olivier, die Amerikaanse president Donald Trump en AfriForum was onder dié wat onder Malema se skerp tong deurgeloop het.
En AfriForum-lede? Volgens die EFF-leier moet hulle hulself regmaak om toegesluit te word want die organisasie se lede is “terroriste”.
In reaksie hierop het AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, beredeneerd geantwoord in die media. Hy sê: “Dit is jammer dat wanneer mnr. Malema onder druk is, hy altyd gebruik maak van dreigemente en pogings tot intimidasie. Dit sal vir hom goed wees om te onthou dat hý die veroordeelde misdadiger is, nie AfriForum nie. Ons is nie bekommerd om agter tralies te land nie, hy – aan die ander kant – behoort wel te wees.”
Terwyl Malema en sy aanhangers nog vuur spoeg, loop die uurglas onverpoosd voort totdat landdros Olivier haar besluit oor die vonnis aankondig. En as die kenners van die reg in die kol is, kan tronkstraf binnekort die EFF-leier se voorland wees. Tyd sal moet leer.



