Water
|

Wekelange waterkrisis in Delareyville opgelos danksy druk deur AfriForum

Die watertoevoerprobleme wat al vir weke lank op Delareyville woed, is eindelik opgelos ná volgehoue druk deur AfriForum. Die inwoners van Delareyville moes vir langer as 22 dae sonder water klaarkom as gevolg van munisipale infrastruktuur wat onklaar geraak het. Die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit het gesloer met die nodige herstelwerk en het boonop geen alternatiewe waterbronne verskaf nie. Gevolglik moes inwoners self vir water gesorg het.

AfriForum het verskeie skrywes aan die betrokke munisipaliteit oor die probleem gerig en hom selfs tot nasionale media gewend om die probleem onder die munisipaliteit se aandag te bring. Dit was skynbaar eers toe dit TV-nuus gehaal het, dat die distriksmunisipaliteit met erns die probleem gepak het.

“Die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit het weereens bewys dat hy nie in staat is om sy verpligtinge as munisipaliteit na te kom nie. Om ’n dorp vir meer as drie weke lank sonder water te los en geen alternatiewe bronne beskikbaar te stel nie, is onaanvaarbaar – dis ’n skending van basiese menseregte,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum het ook intussen ’n kundige uitgestuur om die herstelwerk na te gaan en te verseker dat die kontrakteur wel die pompe op die regte manier gekoppel het sodat dit nie weer uitbrand nie. Daar word reeds water na die reservoirs gepomp, ondanks al die waterlekkasies op die dorp.

“AfriForum sal voortaan met die distriksmunisipaliteit in kontak bly om te verseker dat hierdie probleem nie weer opduik nie. Die burgerregteorganisasie het ook reeds die munisipaliteit versoek om planne in plek te sit sou daar in die toekoms weer ernstige waterprobleme wees,” sluit Nel af.

AfriForum bedank elke rolspeler wat gehelp het om druk op die munisipaliteit toe te pas om dié probleem die hoof te bied. Die AfriForum-tak in Delareyville moedig die gemeenskap aan om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak om Delareyville ’n beter plek vir almal te maak. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings