Wees waaksaam met verwarmers en elektriese toestelle tydens koue weer
AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om verantwoordelik en versigtig te wees wanneer verwarmers en ander toestelle gebruik word om huise warm te hou. ’n Groot deel van die land ervaar tans koue weerstoestande, wat die kanse vir brandrisiko’s in huishoudings laat toeneem.
“Ons verstaan almal die behoefte om warm te bly, maar dit is belangrik dat mense bewus is van die gevare wat gepaardgaan met die gebruik van veral ouer of foutiewe verwarmers, elektriese komberse en oop vure in toe ruimtes. Dit is ook belangrik om jou kinders in te lig oor die gevare van verwarmers en ander verwarmingstoestelle. In ’n oogwink kan nalatigheid lei tot verwoestende huisbrande, lewensverlies of selfs koolstofmonoksied-vergiftiging,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.
Volgens AfriForum is dit noodsaaklik om voorbereid te wees sou ’n brand in jou huis uitbreek. Elke huiseienaar moet minstens een rookverklikker en ’n draagbare brandblusser in die huis hê. Almal in die huis moet weet waar en hoe om die hoofkrag- en die gastoevoer af te sluit en die hele gesin moet gereeld die ontsnappingsroetes in die huis inoefen.
AfriForum herinner die gemeenskap aan ’n paar noodsaaklike veiligheidstappe:
- Moenie verwarmers onbewaak laat aanstaan nie.
- Hou brandbare materiale soos gordyne, komberse en papier minstens een meter weg van enige hittebron.
- Gebruik slegs elektriese toerusting wat deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde goedgekeur is.
- Moenie die proppe van ’n verlengingskoord oorlaai nie.
- Moenie kinders en troeteldiere sonder toesig naby verwarmers of oop vure laat nie.
- Sorg vir voldoende ventilasie indien gasverhitting gebruik word.
AfriForum het ’n gids saamgestel met wenke oor hoe om voor, tydens en ná ’n huisbrand op te tree.