Waarnemende regter en senior advokaat staan tereg op aanklag van poging tot moord ná bloedige padwoedevoorval
Adv. Roelof du Plessis, ’n waarnemende regter en senior advokaat, sal aangekla word van poging tot moord ná AfriForum se Privaatvervolgingseenheid se suksesvolle vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). In ’n oorwinning vir die beginsel van gelykheid voor die reg, staar kriminele aanklagte Du Plessis nou in die gesig, terwyl die ongegronde aanklagte teen sy beweerde slagoffer, Conrad Pretorius, laat vaar is. Die eenheid verteenwoordig Pretorius reeds sedert Augustus 2023 om die klaarblyklik irrasionele besluit te betwis om hóm te vervolg vir aanranding en saakbeskadiging, en nie die senior advokaat nie.
Die saak hou verband met ’n voorval wat op 1 Augustus 2023 plaasgevind het, waartydens Pretorius en sy vrou in Menlopark gery het en hulle Du Plessis, ’n lid van die advokatekamers in Pretoria, by ’n kruising teëgekom het waar die verkeersligte buite werking was. Daar word beweer dat ’n woordewisseling plaasgevind het wat daartoe gelei het dat Du Plessis Pretorius ongeveer vyf kilometer ver deur die strate van die voorstad gejaag het voordat hy hom na bewering in ’n doodloopstraat vasgekeer het. Daar word verder beweer dat Pretorius en Du Plessis uit hul voertuie geklim het en ’n konfrontasie plaasgevind het. Pretorius beweer dat Du Plessis hom met ’n skerp voorwerp in die nek gesteek het, waarna ’n worsteling ontstaan het. Hy is ook in sy been gesteek. Pretorius het daarin geslaag om terug te klim in sy motor en na die naaste hospitaal te ry vir behandeling.
Pretorius is met lewensbedreigende beserings in die hospitaal opgeneem en amper ’n week later ontslaan. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy ’n kriminele klag van poging tot moord teen Du Plessis ingedien, maar ontdek dat die advokaat ook ’n kriminele klag teen hóm ingedien het. Pretorius het sedertdien verskeie kere in die hof verskyn, waartydens die Privaatvervolgingseenheid vertoë tot die NVG gerig het om die besluit, om hom die beskuldigde in hierdie saak te maak, te heroorweeg.
In ’n weldeurdagte reaksie op die eenheid se vertoë, sê adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, dat Du Plessis vervolg moet word op ’n aanklag van poging tot moord. Volgens Batohi is die hoofkwessie in hierdie saak wie onwettig opgetree het deur wie aan te val – en in hierdie verband of Du Plessis in privaat verdediging opgetree het toe hy Pretorius twee keer met sy (Du Plessis se) sakmes gesteek het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die Privaatvervolgingseenheid, sê die getuienis het nog altyd na Du Plessis as die beskuldigde in die saak gewys. “Pretorius moes nooit aangekla gewees het in ’n saak waar hy duidelik die slagoffer was nie. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid is gestig om teen selektiewe vervolging te waak. In ons aanvanklike briewe aan die NVG het ons verklaar dat die vervolgingsgesag ’n plig het om vertroue in die samelewing te vestig deur te verseker dat beweerde oortreders met politieke verbintenisse nie teen vervolging beskerm word nie, en jou status in die regsgemeenskap jou ook nie onnodig teen vervolging sal beskerm nie. Die voorval het vandeesmaand presies twee jaar gelede plaasgevind. Ons prioriteit is nou om te verseker dat die saak vinnig ter rolle geplaas en vervolg word sodat geregtigheid kan geskied,” sê Nel.
“Die besluit van die nasionale direkteur maak ’n groot bydrae tot die herstel van vertroue in die strafregstelsel. Die besluit om Pretorius eerder as Du Plessis te vervolg, was duidelik irrasioneel, aangesien dit geneem is sonder behoorlike oorweging van alle beskikbare bewyse. Een van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid se doelwitte is om slagoffers van ongeregtigheid te ondersteun en hul stem te laat hoor. Hierdie besluit toon dat niemand bo die reg verhewe is nie,” sê Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder.
Pretorius sê die besluit kom as ’n verligting. “Die wete dat daar geen vervolging teen my is nie, of dat hulle nie meer probeer om my te vervolg nie, lig ’n geweldige las van my skouers af. Ek sien uit daarna om te sien wat met die saak gebeur. En laastens wil ek AfriForum bedank vir al hul moeite en bystand.”
Sodra die NVG die datum van die eerste verskyning bevestig, sal die eenheid dit bekendmaak.