Vyf uit nege terreine in Gauteng slaag vullisterreinoudit, maar kapasiteitskrisis dreig steeds, waarsku AfriForum
Vyf uit die nege Gautengse vullisterreine wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, voldoen aan die mees basiese vereistes om gemeenskappe en die omgewing teen besoedeling te beskerm. Die vier terreine wat egter die oudit gedop het, is almal in die Tshwane-metro geleë – ’n bevinding wat dui op ernstige sistemiese probleme ten opsigte van afvalbestuur in dié hoofstad, waarsku die burgerregteorganisasie.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Gauteng – waar 56% van terreine wat geoudit is, aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het al agt ander provinsies uitpresteer en selfs ’n verbetering in die gemiddelde nakomingspunt aangeteken deur ’n oorhoofse verbetering van ses persentasiepunte, van 78% in 2024 tot 84% in 2025, aan te teken. Daarbenewens is Gauteng en die Wes-Kaap die enigste twee provinsies waar die meerderheid vullisterreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het, en derhalwe die oudit geslaag het.
Ondanks dié prestasie, benadruk De Vaal dat ’n vulliskrisis dreig in dié provinsie waar sowat 16 miljoen mense, oftewel nagenoeg ’n kwart van die land se bevolking, woon aangesien die 13 vullisterreine in die provinsie se drie metro’s (Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni) oor ’n gemiddeld van slegs vier jaar hul maksimum kapasiteit sal bereik. “Indien hierdie kwessie in Gauteng nie dringend getakel word nie, kan dit tot ’n algehele ineenstorting van afvalbestuur in die provinsie lei,” waarsku hy.
Uit die nege vullisterreine wat in Gauteng geoudit is, het die volgende terreine die swakste gevaar (die nakomingspunt uit 100 is in hakkies aangedui):
- Shoshanguve-terrein, Tshwane-metro (72)
- Hatherley-terrein, Tshwane-metro (68)
- Bronkhorstspruit-terrein, Tshwane-metro (66)
- Ga-Rankuwa-terrein, Tshwane-metro (60)
In teenstelling met die Tshwane-metro se powere prestasie in vanjaar se oudit, het die drie Ekurhuleni-terreine wat geoudit is, naamlik Alberton se Platkop-terrein (met ’n nakomingspunt van 100), Boksburg se Rooikraal-terrein (98) en die Rietfontein-terrein (96) in Springs, al drie die oudit geslaag. Die enigste ander twee terreine in die provinsie wat vanjaar die oudit geslaag het, is privaat terreine wat deur The Waste Group in Bon Accord en Mooiplaats (albei in Pretoria) bestuur word.
Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, meen die sukses van die Platkop-, Rooikraal- en Rietfontein-terreine bevestig dat goeie bestuur van vullisterreine haalbaar is. Sy waarsku egter dat die munisipaliteite en metro’s in die provinsie nog ’n lang pad sal moet stap om die standaard wat op hierdie drie terreine gehandhaaf word, toe te pas op die ander terreine. “Vullisterreine wat aan die basiese standaarde voldoen, is ononderhandelbaar aangesien die veilige hantering van vullis vereistes is in die beskerming van water, grond en lug teen besoedeling,” verduidelik sy.
AfriForum sal die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.