|

Vullisverwydering: Ekurhuleni moet huis in orde kry – inwoners moet self kan sê oor diensverskaffers

AfriForum sê dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit eerder daarop moet fokus om hul huidige vullisverwyderingsvragmotors en bestaande werknemers aan te wend eerder as om onafhanklike kontrakteurs teen wesenlike kostes aan te stel om hierdie diens te lewer. Volgens die organisasie lê die oplossing vir die voortslepende vullisverwyderingskrisis in dié metro daarin om hul huidige bronne meer doeltreffend aan te wend.

Die metro beskik tans oor slegs nege operasionele vullisverwyderingsvragmotors, terwyl 93 voertuie buite werking is weens meganiese probleme en agterstallige instandhouding. Die metro beplan om teen einde Junie 2025 tien nuwe vullisverwyderingsvragmotors te hê, vyf daarvan het reeds gearriveer. AfriForum meen egter dat dit reeds te laat is en dat tien vullisverwyderingsvragmotors steeds nie voldoende is om die hele metro se vullisverwyderingsdiens doeltreffend te lewer nie.

Ondanks hierdie verval in dienslewering, word eksterne diensverskaffers teen bykomende koste aangestel, wat volgens AfriForum neerkom op finansiële wanbestuur en dubbele dienskontraktering.

Voorts meen die organisasie dat die inwoners van die Ekurhuleni-metro die reg moet hê om self te besluit wie hulle gaan betaal om hierdie kritieke diens te lewer. As die metro versuim om hierdie diens volhoubaar te lewer ondanks die feit dat inwoners daarvoor betaaI, moet inwoners die opsie hê om ’n privaat diensverskaffer te betaal en kwytgeskeld word van dié heffing op hul munisipale rekeninge. As vullisverwydering nie plaasvind nie dan mag die heffing daarvoor nie op ’n munisipale rekening verskyn nie. Tans betaal inwoners dubbel vir hierdie diens aangesien hulle gebruik moet maak van privaat vullisverwyderingsdienste wanneer die metro nie opdaag nie.

In ’n skrywe aan die Ekurhuleni-metro dring AfriForum onder meer aan op die volgende:

  • Die reg om gebruik te maak van private vullisverwyderingsdienste sonder dat inwoners ook moet betaal vir dienste wat nie deur die metro gelewer word nie.
  • Rekeninge wat dienslewering reflekteer en nie heffings eis vir dienste wat nie gelewer is nie.
  • ’n Volledige, onafhanklike oudit van alle vullisverwyderingskostes, dienskontrakte en die toestand van die metro se vullisverwyderingsvloot.

“Die Ekurhuleni-metro kan nie aanhou om hulself blind te staar teen hul eie tekortkominge nie. Dit is nou tyd dat hulle die hulp wat aan hulle gebied word aanvaar en daadwerklike pogings aanwend om te verbeter. AfriForum het voorheen ’n hand van samewerking uitgesteek en ons sal dit weer doen. Intussen is ons gereed om inwoners te help om hul reg tot volhoubare vullisverwyderingsdienste op te eis,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. Raak vandag nog betrokke by AfriForum en help om ’n verskil te maak in jou onmiddellike omgewing. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings