|

Vullisfiasko op Mookgophong afgeweer ná AfriForum 815 sakke vullis verwyder

’n Vullisfiasko is verlede week op Mookgophong afgeweer toe AfriForum se Naboomspruit-tak ingegryp het om huishoudelike vullis in Golfpark en die woongebied van 5de tot 7de Straat met die hulp van ’n privaatvullisverwyderingsmaatskappy te verwyder. Dit volg nadat munisipale vullisverwydering in dié deel van die dorp in daardie stadium reeds vier dae lank opgeskort is en vullis opgehoop het.

Die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om ’n betroubare vullisverwyderingsdiens te bied, laat inwoners nou rooi sien.

Volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, het vullis tydens die onlangse onderbreking van die diens buite huise opgehoop. Die munisipaliteit het aangevoer dat alle vullisverwyderingsvragmotors buite werking was en die diens derhalwe tot stilstand gedwing is. “Terwyl AfriForum se Naboomspruit-tak en die privaatvullisverwyderingsdiens Zero Waste besig was om vullisverwyding te onderneem, het die munisipaliteit egter opgedaag en die oorblywende huise se vullis verwyder,” verduidelik Kotze.

“Die tak het noodgedwonge ingespring om die gemeenskap te help met hierdie noodsaaklike diens. Dit het egter net ’n tydelike oplossing gebied en daarom sal ons nou alle moontlikhede en remedies oorweeg om druk op die munisipaliteit te plaas om sodoende te verseker dat inwoners die dienste kry waarvoor hulle betaal,” benadruk Kotze.

Jy kan ook ’n verskil in Mookgophong maak en verval in hierdie dorp in die kiem smoor. Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Naboomspruit-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings